Archives

Noord-Kaapse brande: Boere is moeg en moedeloos

Featured Ad


Sedert Donderdag 6 Oktober omstreeks 04:00, spook boere in Kuruman, Daniëlskuil, Hotazel en omliggende gebiede al om veldbrande te blus. Die boere en hul plaaswerkers is moeg en moedeloos, veral waar daar plaashuise onder die brande deurgeloop het en diere doodgebrand is.

Eben Anthonissen, ’n verteenwoordiger van georganiseerde landbou in die Kuruman- en Kathu-omgewing, sê weerlig het Donderdagoggend tot veldbrande gelei en kort daarna is die veld op nog drie plekke deur die weerlig aan die brand gesteek. Met die kwaai wind wat ook in dié tyd gewaai het, het die brande heeltemal buite beheer geraak.

Teen Maandagmiddag was die brande nog nie ten volle onder beheer nie en moes Agri Noord-Kaap vir Johan Breytenbach van Vrystaatse Sambreel-brandbeskermingsvereniging inroep om te kom help. Hy is ’n kundige op die gebied van brandbestryding en het sy hoofkwartier tussen Daniëlskuil en Koopmansfontein opgerig, vanwaar die brande bestuur sal word.

Brande versprei vinnig

Volgens Anthonissen het die brande vinnig versprei en kort voor lank was dit nie meer ’n streeksprobleem nie. Die Noord-Kaapse Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en en die provinsiale rampbestuurskomitee het ook hul hulp aangebied en fondse beskikbaar gestel om die brande met helikopters te probeer blus. Die eerste poging het as gevolg van die groot hoeveelheid rook in die lug misluk, maar die helikopters kon help met die nasorgdiens by die brande.

Hy sê die skade van die brande is nog nie bereken nie, maar as hy oor die duim skat lyk dit of sowat 100 000ha reeds afgebrand het. Volgens hom is daar nie lewensverlies nie, maar heelwat vee en wild is in die proses dood en die Dierebeskermingsvereniging moes ook reeds begin om genadedood toe pas op diere wat erg verbrand is. Sommige van die boere het tot 85% van hul weiding in die proses verloor.

Agri Noord-Kaap het hul meegevoel uitgespreek oor die boere wat deur die brande geraak is, maar het ook ’n plan beraam om dié boere te help om weer hul plase op te bou. Die Agri NK Foundation word gebruik om boere in sulke omstandighede by te staan.

Enige iemand wat ’n finansiële bydrae wil maak om dié boere te help, kan met Janine Byleveld by 073 291 0557 gesels. – Koos du Pisanie, AgriOrbit

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon