Archives

Hoër dieselrabat kan voedselpryse stabiliseer

Featured Ad


Agri SA meen daar is ʼn manier om voedselpryse in toom te hou as die regering die dieselrabat vir boere kan verhoog.

Verbruikers het die week voor vulstasies tou gestaan om betyds, voor 1 Junie, hul voertuie vol brandstof te maak. Maroela Media het vroeër berig dat verbruikers hul gordels stywer sal moet trek weens die skerp brandstofstyging, maar dat die brandstofheffingverligting van R1,50 in plek bly.

Die dieselrabat is ʼn korting op die prys van die diesel wat boere aankoop en skel hul kwyt van die brandstofheffing en Padongelukfonds (POF)-heffing, omdat hul werktuie nooit nie, of bitter min op paaie buite die plaas aangewend word.

Kulani Siweya, hoofekonoom by Agri SA, sê in die landbousektor kwalifiseer ’n sekere persentasie van produsente se brandstof vir hierdie korting, en van daardie gedeelte is 100% vrygestel van die POF-heffing, en 40% van die brandstofheffing.

“Hierdie instrument werk baie goed om die sektor te beskerm teen toenemende brandstofkoste wat reeds ernstige druk op die bedryf plaas,” sê hy.

“Die behoefte aan verligting vir boere is veral dringend omdat daar ’n groot vraag na brandstof in baie dele van die sektor is, aangesien die oesseisoen vir somergrane en vrugte soos sitrus steeds aan die gang is.

“Wintergewasse, waaronder koring, word ook tans geplant. Dit maak hierdie kommoditeite sensitief vir die huidige dieselprysstyging.

“Ons moet onthou dat die landbousektor, in vergelyking met buitelandse mededingers, min of geen regstreekse ondersteuning van die regering ontvang nie. Een van die welkome maatreëls wat ingestel is, is die dieselrabat, wat vir boerderye verligting bied om hulle teen wêreldwye mededinging te beskerm,” sê hy.

“Hoewel boere min beheer oor voedselpryse buite die plaashek het, het insetpryse wat skerp toeneem reeds die gevolg dat hoër voedselpryse op winkelrakke verbruikers in die gesig staar.

“’n Prysverhoging van hierdie omvang, sal ʼn ernstige uitwerking op voedselsekerheid in Suid-Afrika hê en dit is noodsaaklik dat die regering alle lewensvatbare opsies oorweeg om die kostedruk wat voedselpryse beïnvloed, te buffer.”

Die organisasie glo dat ’n doelgerigte ingryping om die dieselrabat vir die landbousektor te verhoog hierdie doel sal dien, terwyl dit ook ’n meer volhoubare opsie oor die komende maande sal wees, gegewe die druk op die fiskus.

Agri SA sê hy sal voortgaan om sy lede, gemeenskappe en die regering te betrek om te verseker dat Suid-Afrikaners van voldoende voedsel voorsien word in hierdie onsekere en moeilike ekonomiese tye.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon