Archives

Droë jaar se oes nie sleg nie

Featured Ad


Foto: Sarita Uys

Boere sê vir die min reën wat hulle van April af gekry het, is opbrengste nie sleg nie. Hulle skryf dit toe aan vogbewaring wat met bewaringsboerdery gepaardgaan en koel lenteweer.

In die oostelike graangebiede is dit voluit oestyd. Dis nog vroeg, maar kanola-opbrengste van 1,2 t/ha word behaal en die gars wat tot dusver geoes is, was alles moutgraad.

Mnr. Kobus Horne van Pienaarsrivier by Riversdal sê hy kan uit die stroper sien die kampe wat al lank in ‘n goeie bewaringsboerderystelsel is, vaar beter as kampe wat nog nie so lank in die stelsel is nie.

 

Hy het 1,5 t/ha met die kanolakultivar Quartz behaal en is nou besig om koring te oes.

Koringopbrengste is 2 tot 2,5 t/ha en die proteïeninhoud is tot dusver goed. Die koring is ook droog. Hy het 2,2 t/ha gars geoes, alles moutgraad.

Behalwe die uitwerking van bewaringsboerdery, het die koel weer wat hulle tot dusver gehad het, bygedra tot die opbrengste wat behaal word in ‘n jaar wat hy tot dusver skaars die helfte van die plaas se langtermyngemiddelde reën gekry het.

Mnr. Johannes Joubert van die plaas kweekkraal by Riversdal meen die koringopbrengste van 2,2 – 2,3 t/ha wat hulle behaal, is maar wat hulle verwag het gegewe die reën wat hulle gekry het.

Joubert se gars het gemiddeld 2,3 t/ha geskiet en alles was moutgraad. Die kanola vaar ook goed ten spyte van die droogte.

Koel weer help

Op die Heidelbergvlakte het mnr. Andries Duminy van Somona Boerdery reeds gars geoes. “Die gars van die Kadiekultivar wat ek geplant het, skiet nie so wonderlik nie, maar die korrels is vet en is alles moutgraad. Die plante het nie gestoel nie, maar het die klein aartjies volgemaak.”

Hy het vandat hy geplant het tot einde September net 94 mm reën gekry. “Ons kry gewoonlik 170 tot 200 mm.”

Dis sy derde swakste jaar vandat hy begin boer het, maar die vorige kere wat hulle so min reën gekry het, het hulle nie geoes nie. Hy skryf die oes wat vanjaar op die lande staan toe aan die koel weer wat hulle in September en Oktober gehad het.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon