Archives

Zim-boere veg voort vir geregtigheid

Featured Ad


Trevor Gifford, wat in die Chipinge-distrik in die Manicaland-provinsie in Zimbabwe geboer het, sê hy sal altyd ‘n Zimbabwiese-burger bly, maar soek dieselfde regte as enige Zimbabwiese burger. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Maroela Media – Zim-boere veg voort vir geregtigheid | Maroela Media

 

ʼn Groep Zimbabwiese boere wat sedert 2000 van hul plase afgegooi is, het besluit om nie net hul lot te aanvaar nie, maar ʼn wetlike proses aan die gang te sit om reg te laat geskied.

Die uitsprake was deurlopend in hul guns, maar weens politieke agendas, manipulasie, intimidasie, aanrandings, korrupsie en ʼn ooglopende sameswering deur sekere presidente van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het baie van hulle moed verloor en vandag nog nie veel gevorder nie.

Nadat die SAOG se tribunaal in 2008 ten gunste van die boere beslis het, is die tribunaal om duistere redes ontbind deur onder andere Robert Mugabe en Jacob Zuma, voormalige presidente van onderskeidelik Zimbabwe en Suid-Afrika.

In 2009 het AfriForum met sy regsverteenwoordiger, Willie Spies van Hurter Spies-prokureurs, die Suid-Afrikaanse regering hof toe geneem weens sy aandeel in die ontbinding van die tribunaal. Nadat die saak sy weg deur die laer howe gevind het, het die appèlhof in Mei verlede jaar in AfriForum se guns beslis. Intussen het die SA regering besluit om die saak na die Konstitusionele Hof te neem, wat volgens Spies hopelik binne die volgende maand of twee ʼn bevinding hieroor sal maak.

“Altesaam 23 jaar gelede is die oppergesag van die reg met die reg van die mens in Zimbabwe vervang. Die reg op eienaarskap is vervang met ʼn politieke filosofie van onteiening sonder vergoeding. Die gevolg daarvan was verwoestend vir Zimbabwe, die boere en hul werkers en ʼn hele streek,” sê Spies.

Hy sê die boere in Zimbabwe kan nie meer op hul eie bene staan nie en het nie meer bedingingsmag om met die Zimbabwiese regering te onderhandel nie. “As jy nie bedingingsmag het nie, onderhandel jy nie meer nie, jy bedel. Daarom het jy verteenwoordigers nodig wat boere na ʼn volgende vlak kan neem.

“[Indien AfriForum wen], sal dit die pad vir ons oopmaak om ʼn noemenswaardige deliktuele eis teen die Suid-Afrikaanse regering in te stel,” sê Spies.

Die tyd stap ook aan en in 2000 was die gemiddelde ouderdom van die boere wie se plase onteien is, 63 jaar. Vandag is dit 86 vir diegene wat nie reeds oorlede is nie, wat beteken dat die regering van Zimbabwe tyd kan wen sodat sy “probleem” kan weggaan.

Saai, die netwerk vir familieboere in Suider-Afrika, het meer as 500 familieboere wat in Zimbabwe geboer het of steeds daar boer. Dié organisasie het ʼn klomp van hierdie boere in Pretoria bymekaargebring om hulle planne vir die toekoms bekend te maak.

Ben Freeth, Zimbabwiese boer; Willie Spies, prokureur by Hurter Spies-prokureurs; dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, en Wynand Hart, Zimbabwiese boer, tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

 

“Die Zimbabwiese boere is baie duidelik oor wat hulle soek. Hulle wil hê dat reg geskied, hulle soek restitusie, maar die belangrikste is hulle burgerskap, om die reg soos enige ander burger van Zimbabwe te hê om eiendom te besit,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

 

Hy sê Saai se strategie is eerstens om die druk op die Zimbabwiese regering te verhoog. Vroeër dié week is ʼn vergadering met ambassades in Pretoria gehou om groter bewustheid te skep van die lot van onteiende boere en om hulle op die hoogte te bring van die jongste aanbiedinge van die Zimbabwiese regering om vergoeding te betaal.

 

In Julie 2020 is die Global Compensation Deed met landbou-organisasies onderteken, waarvolgens Zanu PF erken dat hy vergoeding aan die boere verskuldig is en hom tot ʼn afbetalingsreëling verbind, maar nog niks het daaruit gespruit nie.

 

Intussen word daar wel sporadies klein bedrae deur die Zimbabwiese regering aan die kwesbaarste ou boere betaal om hulle met agterstallige doktersfooie en medisynerekeninge te help. Ongelukkig word hierdie hulp misbruik as ʼn pistool teen die kop van die breër boeregemeenskap met die dreigement dat dit tot ʼn einde sal kom as titelaktehouers nie die nuwe aanbod wil aanvaar nie.

Gewese Zimbabwiese boere wat steeds in ʼn stryd gewikkel is om vergoeding vir die grond wat hulle verloor het, is Peter Steyl, Mike Odendaal, Dave Joubert, Wynand Hart, Trevor Gifford, Graham Rae, Ben Freeth en Rusty Markham. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Dié nuwe aanbod behels betaling in staatseffekte wat eers oor 14 jaar verdiskonteerbaar is en die meeste van Saai se Zimbabwe-gebaseerde lede is nie daarvoor te vinde nie.

 

Vir hierdie doel stig Saai ʼn hulpfonds om daardie kwesbaarste boere uit ʼn alternatiewe bron te help oorleef. Saai skep ook ʼn beleggingsinstrument vir Zimbabwiese titelaktes wat gebaseer is op die hoop vir billike vergoeding. Boere kan hulle titelaktes aan die beleggingsinstrument verkoop of dit vir eie voordeel daarin deponeer om aan die titelaktes en gepaardgaande eise ʼn langer lewe as hulle eie lewe te gee. Buitelandse beleggers is ook genader om in hierdie instrument te belê.

 

Saai maak ook tans ʼn dokumentêre program oor die onteienings en die lang stryd om billike vergoeding aan families wat sedert 2000 van hulle plase afgesit is.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon