Archives

Winsgewende skaapboerdery Deel 7: Sorg vir ooilammers en hulle sorg vir jou

Featured Ad


Dit is van die uiterste belang dat sogende ooilammers en jongooie optimaal uitgroei, want dit verhoog hulle leeftydreproduksie- en -produksietempo. Massaverlies op enige stadium van geboorte tot eerste paring, asook swak uitgroei, kan leeftydproduksie en -reproduksie permanent en onomkeerbaar verlaag.

Versorging van ooilammers word soms erg verwaarloos, omdat dié diere se groei en ontwikkeling nie ՚n onmiddellike ekonomiese voordeel vir die boer inhou nie.

Pasgespeende lammers is baie vatbaar vir interneparasietbesmetting wat hulle potensiële immuniteit verlaag.

Om ՚n hoë leeftydreproduksietempo te verseker, moet ooilammers ՚n hoë groeitempo tot speen en minstens ՚n matige groeitempo daarna tot eerste paring handhaaf. Navorsers stel dit duidelik dat vervangingsooitjies in geen stadium vanaf geboorte tot eerste paring massa moet verloor nie.

Ooie op natuurlike weiding.

Waar speenooilammers net op natuurlike weiding aangewese is, gebeur dit dikwels dat hulle gedurende die droë seisoen massa verloor op die droë weiding.

Praktyke wat gedurende verskeie stadia van die lewe van jongooie toegepas moet word om ՚n hoë leeftydproduksie en -reproduksie te verseker, word vervolgens kortliks bespreek.

Geboorte tot speen

Jongooie voor speen.

Ooilammers wat die eerste paar maande van hulle lewe onder voedingstremming verkeer, sal ՚n laer ovulasietempo hê en minder lammers in hulle leeftyd produseer as dié wat goeie voeding ontvang het.

Om die hoogste moontlike groei van sogende lammers te verseker, moet lakterende ooie ՚n hoëdeurvloeiproteïenlek op goeie gehalte weiding kry.

Kruipvoeding verhoed ook massaverlies weens speenskok. Elke dag wat die lammers massa verloor weens speenskok, neem hulle ongeveer drie dae om dit terug te sit.

Dit is raadsaam om met speen aanvanklik ՚n aantal ou uitskotooie tussen die pasgespeende lammers te plaas om hulle rustig te hou.

Navorsing deur die Australian Lifetime Wool Innovation-project (2007) toon dat lammers met speen swaarder as 23 kg moet weeg en nie later as ouderdom 84 dae gespeen moet word nie.

Die vroeër speen van lammers en die afronding van uitskotooilammers in ՚n voerkraal, skep die geleentheid om meer ooie (tot 20% meer) aan te hou en terselfdertyd waarde tot eie lammers toe te voeg. Waardetoevoeging tot selfgeproduseerde produkte, in hierdie geval lammers, verseker hoër winsmarges. Dit is ՚n vorm van diversifisering wat algemeen aanvaar word as ՚n strategie om die risiko in landbou te beperk. In hierdie verband behoort voerkraalafronding van selfgeteelde lammers ՚n integrale deel van ՚n skaapboerdery uit te maak om risiko te verlaag.

Speen tot eerste paring

Skaapboere is dikwels geneig om hulle speenooilammers op ՚n sogenaamde ‘oorlewingskursus’ te plaas met die doel om hulle vir gehardheid en aanpasbaarheid te selekteer. Indien hulle egter voor eerste paring massa verloor, word hulle leeftydproduksie en -reproduksie permanent en onomkeerbaar verlaag.

Seleksie vir gehardheid en aanpasbaarheid moet daarom hoofsaaklik van die ram se kant geskied deur seleksie van ramme onder veldtoestande met minimale byvoeding. Die voer van ramme vir veilings moet eers geskied nádat finale seleksie plaasgevind het.

Kruipvoeding verhoed massaverlies weens speenskok.

Teikenparingsmassa en -groeitempo

Om ՚n hoë lampersentasie te verseker, mag ooilammers geen massa verloor vanaf speen totdat hulle die eerste keer lam nie. Hulle moet ook met eerste paring op minstens 80% van die volwasse liggaamsmassa wees indien hulle op twaalf maande en jonger vir die eerste keer gepaar word.

Dit is ՚n algemeen aanvaarde wetenskaplike feit dat vir elke kilogram wat die paarmassa van jongooie styg, hulle gemiddelde lampersentasie met ongeveer 1,5 tot 2,5% verhoog.

Onvoldoende voeding ses maande voor paring is heel dikwels die rede waarom swak besetting en minder tweelinge gekry word, selfs al was ooie in ՚n uitstekende kondisie tydens paring. Waar vervangingsooie ses maande voor paring slegs vir drie maande op swak gehalte weiding gewei het, was die besetting slegs 75% teenoor die 97% van dié wat gedurende hierdie tydperk goeie weiding gehad het.

Ooilammers moet met speen ՚n spoorelement- asook vitamien A- en E-aanvulling ontvang.

Optimale uierontwikkeling

՚n Te hoë groeitempo kan optimale uierontwikkeling nadelig beïnvloed weens oormatige vetneerlegging in die uier, wat melkvormende weefsel (alveoli) beperk. Vroeggespeende lammers wat van speen tot eerste paring op ouderdom nege maande teen 200 g/dag gegroei het, toon laer en minder volgehoue melkproduksie as hulle tydgenote wat teen ongeveer 100 g/dag gegroei het.

Die beste produksiestelsel is om lammers voor speen teen ՚n hoë tempo te laat groei. Dit is baie kostedoeltreffend aangesien jong lammers se uitstekende voeromsettingsvermoë dan maksimaal benut word deur hulle vanaf ouderdom 70 dae vroeg te speen.

Seleksieprosedures

Jongooie moet nie onnodig op grond van rasstandaarde uitgeskot word nie. Soveel jongooie as moontlik moet gepaar word. Indien dit nie prakties moontlik is nie, moet minstens 25% meer jongooie as wat vir vervanging benodig word, gehou word, verkieslik slegs dié wat gedurende die eerste 17 tot 21 dae van die lamseisoen gebore is.

Eerste paring

Jongooie, veral die wat met eerste paring jonger as twaalf maande is, het ՚n korter en minder intense hittetydperk as volwasse ooie.

Ramme ervaar ook meer probleme om jongooie te dek as in die geval van volwasse ooie. Navorsers beveel daarom aan dat jongooie gekoggel word. Dit is verder vandag ՚n standaardpraktyk om jongooie apart van volwasse ooie met ervare ramme te paar om ՚n hoë besetting en lampersentasie te verseker.

Jongramme ondervind meer probleme om jongooie wat bronstig is op spoor en/of te dek.

Kleinveeboere word dus aangeraai om spesiale aandag aan die voeding en versorging van hulle pasgespeende ooilammers en vervangingsooie te gee, want dit is die belangrikste belegging wat hulle kan maak om ՚n hoogs produktiewe en winsgewende skaapboerdery te verseker.

ProAgri bedank ʼn legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, wat sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.

Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon