Archives

  • Winsgewende skaapboedery: Kondisiebepaling — ‘n nuttige bestuurshulpmiddel

Winsgewende skaapboedery: Kondisiebepaling — ‘n nuttige bestuurshulpmiddel

Featured Ad


Kondisiebepaling is ՚n nuttige bestuurshulpmiddel vir enige skaapboer. Dit is ՚n baie praktiese en gerieflike metode om te bepaal wanneer ՚n skaap byvoeding nodig het. Die gereelde monitering van kondisie- en massa-veranderinge help om byvoedingskoste te minimaliseer en verseker terselfdertyd dat optimale diereprestasie behaal word.

Nodigheid van byvoeding

Die produksiepotensiaal van skape is hoogs afhanklik van die beskikbaarheid van veral energie en proteïen, maar kritieke voedingstowwe soos deurvloeiproteïen, minerale en vitamiene kan ՚n wesenlike invloed op die produksievlak van skape hê.

In hierdie verband is die kondisie van die ooi gedurende elke stadium van haar reproduksiesiklus dus van kritieke belang en dit is noodsaaklik om aanvaarbare teikendoelwitte in terme van liggaamskondisie te stel ten einde optimale diereprestasie te verseker.

Bepaling van liggaamskondisie

Die bepaling van ՚n ooi se kondisie berus op die bevoeling van die lendegedeelte. Die mate waartoe die rugwerwels en vetbedekking in die lendegedeelte gevoel kan word, bepaal die kondisiepunt (KP) op ՚n skaal van 1 (brandmaer) tot 5 (oorvet).

Figuur 1: Die 5-punt ondersoekmetode vir beter kuddegesondheid.

՚n KP van 1 en 2 dui op ondervoeding en lae produksie, ՚n KP van 3 en 4 op goeie voeding en hoë produksie, terwyl ՚n KP van 5 op oorvoerde en oorvet ooie dui.

Die voedingstatus van die ooi gee ՚n aanduiding of die weiding aan die ooi se voedingsbehoefte voldoen en of byvoeding verskaf moet word. Kondisie- en liggaamsmassabepaling is baie eenvoudige en bekostigbare tegnieke wat as hulpmiddels gebruik kan word om te help bepaal of aanvullende voeding noodsaaklik is.

Kondisiebepaling kan veral baie nutig gebruik word om die ooi se voedingstatus op sekere strategiese tye (byvoorbeeld voor en tydens paring, gedurende vroeë dragtigheid, middragtigheid, laatdragtigheid en laktasie) te bepaal. Die kondisiepunt is meer geskik om langtermyn- eerder as korttermynveranderinge in die voedingstatus van die diere aan te toon.

In die geval van korttermynveranderinge, is die weeg van diere ՚n baie meer betroubare metode.

Voor en tydens paring

Die doel met voeding (prikkelvoeding) gedurende hierdie stadium is om te verseker dat soveel as moontlik ooie op hitte kom, dat maksimum ovulasietempo plaasvind, dat die meeste eierselle bevrug en ingeplant word en in lewensvatbare fetusse ontwikkel om sodoende lampersentasie te maksimeer.

Dit word sterk aanbeveel om ooie op die dag wat hulle lammers speen (minstens drie maande voor paring) in twee of selfs drie groepe volgens hulle kondisie te verdeel en die wat skraal en maer is, op beter weiding plaas en/of byvoeding te gee. Hierdie ooie benodig ՚n langer tydperk en beter voeding om die massa wat hulle gedurende laktasie verloor het, te herwin. Hierdie strategie help om op byvoeding te bespaar, omdat net ՚n gedeelte van die kudde, die wat dit werklik nodig het, gevoer word. Dit sal verseker dat hierdie ooie ՚n kondi-siepunt van 3,5 met paring bereik.

Die normale prikkeltydperk vanaf drie weke voor paring kan dikwels te kort wees om skraal en maer ooie in die gewenste kondisie (3,5 KP) vir paring te kry. Nie net is dit dikwels die rede vir swak, wisselvallige of geen respons met prikkelvoeding nie, maar dit is noodwendig ook ՚n mors van geld.

Deur ooie gereeld te weeg, kan die hoeveelheid lek wat verskaf word dus aangepas word om die gewenste groeitempo te handhaaf. In sekere gebiede word dikwels ՚n tekort aan kritieke voedingstowwe (soos deurvloeiproteïen, minerale en vitamiene) in die weiding ondervind en is dit noodsaaklik dat dit betyds voor paring aangevul moet word om ՚n hoë lampersentasie te verseker.

Afgesien daarvan dat volwasse en jong ooie met paring in ՚n uitstekende kondisie (3,5 KP) moet wees, moet jong ooie wat op die ouderdom van twaalf maande gepaar word, ՚n kritieke liggaamsmassa van minstens 60% (verkieslik 70%) van die paarmassa van volwasse ooie met paring bereik. Jong ooie van 18 maande moet minstens 80% (verkieslik 85 tot 90%) van die paarmassa bereik om ՚n hoë lampersentasie te verseker.

Weens hulle hoër voedingsbehoeftes moet jong ooie as ՚n aparte trop bestuur word en hulle massaveranderinge moet gereeld gemoniteer word om te verseker dat hulle hul teikenmassa met paring bereik.

Vroeë dragtigheid, middragtigheid, laatdragtigheid en laktasie

Die teikendoelwitte wat gedurende hierdie kritieke stadiums bereik moet word om maksimum winsgewendheid te verseker, sal in die volgende artikel bespreek word.

Om ՚n skaap se vetbedekking op die lendegedeelte met jou hand te bevoel, stel jou in staat om ՚n kondisiepunt van 1 tot 5 aan die skaap toe te ken.

ProAgri bedank ՚n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, wat sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het. Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon