Archives

Weerballonne oor Karoo ‘ʼn eerste’

Featured Ad


Maroela Media – Weerballonne oor Karoo ‘ʼn eerste’ | Maroela Media

 

Dr. Johannes Laube en dr. Markus Geldenhuys lanseer saam een van die ballonne. (Foto: Verskaf)

 

Weerballonne is onlangs deur wetenskaplikes naby Beaufort-Wes in die Wes-Kaap gelanseer in ʼn poging om die omvang van besoedeling en kweekhuisgasse in die atmosfeer te meet.

 

Dié ballonne, ʼn eerste van sy soort in Suid-Afrika, kan onder meer onthul hoe allerlei besoedelingstowwe ʼn uitwerking op temperature en weerstoestande op die oppervlak van die aarde het – veral in die Suidelike Halfrond waar die teenwoordigheid van dié gasse ʼn seldsame verskynsel is.

 

Wetenskaplikes verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) en die Duitse navorsingsentrum Juelich het saamgespan om die navorsing te onderneem.

 

Die betrokke navorsers hoop om ʼn beter begrip van atmosferiese prosesse te kry, hoe om satellietprodukte te verbeter en om die langtermynvoorspelling van weerstoestande te help verbeter. Dit alles terwyl meer akkurate projeksies van toekomstige klimaatsverandering gegee kan word.

 

“Normaalweg moet ʼn mens staatmaak op afstandswaarnemingsinstrumente soos satelliete om belangrike data in te win oor besoedelingstowwe en kweekhuisgasse, maar selfs hierdie gesofistikeerde toerusting vereis allerlei prosesse en onafhanklike verifikasie,” sê dr. Johannes Laube van Juelich.

 

“Hierdie ballonne kan egter klein meetinstrumente tot op ʼn hoogte van ongeveer 35 km, ver bo die reikafstand van vliegtuie, dra om die atmosfeer van die grond af tot by daardie andersins ontoeganklike hoogtes te meet.”

 

Tot dusver het die eerste vier ballonne wat gelanseer is reeds waardevolle en akkurate inligting verskaf met betrekking tot die vertikale verspreiding van die konsentrasie waterdamp, osoon, koolstofdioksied, koolstofmonoksied, metaan en baie ander gasse in die atmosfeer wat ʼn klein konsentrasie suurstof en stikstof het.

 

Die lansering van weerballonne kom egter nie sonder sy uitdagings nie.

 

Volgens dr. Markus Geldenhuys, weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, moet die heliumballon ʼn meetinstrument van 4 kg kan dra, asook ʼn opsporingsapparaat, sonder om te bars voordat dit die 35 km hoogte bereik.

 

“Terwyl die ballon styg moet dit ook die temperatuur, druk, waterinhoud, metaan, koolstofdioksied en osoonvlakke in die atmosfeer meet en aanteken,” sê hy.

 

“Wanneer die ballon bars moet ons voorspel waarheen die valskerm sal dryf en op watter boer se plaas dit sal beland, waarna dit op die betrokke plaas opgespoor moet word. Dit is omtrent soos om ʼn naald in ʼn hooimied te soek.”

 

Nog uitdagings wat die wetenskaplikes die afgelope tyd teëgekom het, is skielike winde wat die ballonne breek voordat dit kon opstyg. Hulle moes ook gespook het om die meetinstrumente op te spoor ná ʼn verwoestende donderstorm dit van sy koers af gegooi het. Dit is uiters tydsensitief om die instrumente te herwin nadat dit die nodige inligting ingewin het.

 

Ondanks die uitdagings is die wetenskaplikes tevrede met die resultate tot dusver.

 

Hulle sal na verwagting voortgaan om dié ballonne te lanseer totdat al die nodige data ingewin is.

 

“Die weerdiens sien uit na verdere samewerking met Duitsland in hierdie verband en die inkorporering van die belangrike inligting in sy klimaatdatabasis,” sê Geldenhuys.

 

Kenners het vroeër aan Maroela Media gesê dat Suid-Afrika se weerdiens een van die beste weerdienste in Afrika is en voortdurend daaraan werk om die akkuraatheid van sy voorspellings te verbeter.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon