Archives

Warm temperature, neerslae voorspel tot einde Maart

Featured Ad


Desondanks die koeler dae wat onlangs oor dele van Suid-Afrika voorgekom het, word hoë temperature en nog reën tot einde Maart oor dele van die land verwag aldus Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

https://agtag.co.za/category/14/post/30530

Van den Berg meen temperature gaan baie wissel met matige tot warm toestande wat tot ongeveer 27 Maart gaan voortduur. Terselfdertyd sal die sentrale en westelike dele van die Wes-Kaap baie warm toestande en temperature van bo 35 °C ervaar.

Bewolkte en koeler toestande gaan van einde Maart begin voorkom met baie meer matige maksimum temperature tussen 25 °C en 30 °C. In die Suid Kaap kan maksimum temperature van tussen 20 °C en 26 °C te wagte wees.

Reënval

Volgens Van den Berg kan ligte reën van minder as 20 mm tot einde Maart oor bykans die hele Suid-Afrika voorkom. Tropiese vog kan buie oor die westelike en suidelike binneland veroorsaak tot ongeveer 25 Maart, wanneer die gaan opklaar vanuit die weste en noordooswaarts gaan skuif en ligte reën langs die Suid-, Oos- en Noordkus veroorsaak. Swaarder reën van tot 40 mm is moontlik oor die Laeveld, asook oostelike gedeeltes van Mpumalanga rondom 26 tot 28 Maart.

Droër toestande word vanaf 25 Maart tot 1 April vir die Noord-Kaap voorspel, en produsente kan dan lusern baal en sny.

Reënvaltoestande verbeter weer in die eerste week van April oor veral die westelike dele van Suid-Afrika, hoewel modelle nie tans aandui of swaar neerslae dan sal voorkom nie.

Wat reënval oor die winterreëngebied betref, sal tropiese vog wat oor Namibië suidwaarts beweeg, die kans op ligte reën tot 25 Maart oor die suidelike deel van Suid-Afrika verbeter. Minder as 10 mm is moontlik oor dié gebied. In die eerste week van April kan 10 mm tot 20 mm oor die Swartland, die Kaapse Wynland en die Kaapstadse metropool voorkom. Minder reën is oor die Suid-Kaap moontlik.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon