Archives

Warm nuus: LITS sien in Oktober die lig!

Featured Ad


Dit is amptelik – na jare se beplanning het die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, die inwerkingstelling van die LITS-stelsel (Livestock Identification and Traceability System) goedgekeur. Volgens Willie Clack, voorsitter van die LITS-komitee, sal hierdie stelsel op 17 Oktober 2022 vir registrasie oopmaak.

Die regering, in samewerking met die bedryf, is vir die afgelope paar jaar al in die proses om ’n vee-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel te ontwikkel. Dit sluit die totale bedryf, van opkomende tot kommersiële produsente in, en het ten doel om:

Veesiekte-beheerprogramme te verbeter.

Die ontwrigting van veebemarking ná siekte-uitbrekings te verminder.

Aan sanitêre vereistes van hoëwaarde-uitvoermarkte te voldoen.

Die mededingendheid van die veesektor te verbeter.

Oprengste vir alle rolspelers in die waardeketting te verhoog.

Vertroue in Suid-Afrikaanse veeprodukte te verbeter.

Toegang tot akkurate inligting om veediefstalsake op te los, te versnel.

Die gehalte van veedata te verbeter.

Gehalte en betroubaarheid van genetiese seleksieprogramme te verbeter.

Volgens Dewald Olivier, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging, het die Suid-Afrikaanse veebedryf die potensiaal om met die wêreld mee te ding, mits al die rolspelers saamstaan en hulself meetbaar met wêreldstandaarde maak. “Naspeurbaarheid is een van die maniere waarop ons dit kan regkry,” meen hy.

Clack sê die huidige bek-en-klouseerkrisis en Suid-Afrika se dieregesondheidstatus, het die bedryf genoop om opnuut na naspeurbaarheidstelsels te kyk, wat waarskynlik druk geplaas het op alle rolspelers (die staat en die rooivleiswaardeketting) om die LITS-stelsel van die grond af te kry.  

Hoe gaan dit werk?

Die LITS-stelsel, wat op 17 Oktober vanjaar sal oopmaak vir registrasie, se databasis is deur die WNNR ontwikkel. Hierdie databasis maak voorsiening vir onder andere die beweging van diere, registrasie van diere-eienaars, aantekening van siektes, privaatveeartse, inentings en dies meer. Alle rolspelers in die primêre waardeketting (produsente, voerkrale, veilings en abattoirs) sal op die stelsel registreer.

Die oogmerk is om die stelsel in fases te laat infaseer:

  • Fase 1 – registrasie van kommersiële produsente (produsente met ‘n BTW-nommer).
  • Fase 2 – registrasie van alle vee-eienaars per provinsie.
  • Fase 3 – registrasie van alle ander rolspelers in die waardeketting.

Slegs kommersiële veeprodusente sal vir die eerste drie weke, vanaf 17 Oktober, toegelaat word om op die stelsel te registreer, waarna die stelsel vir vee-eienaars en kleinboere sal oopmaak. Dit sal produsente ongeveer 5 tot 8 minute neem om te registreer, en die stelsel kan tot 4 500 registrasies op ‘n slag hanteer.

Inligting benodig vir registrasie op die LITS-stelsel

  1. Bewys van adres aangesien die stelsel op ‘n FICA-grondslag gaan werk.
  2. Maatskappyregistrasie-, trustregistrasie- of ID-dokument.
  3. Brandmerkregistrasiesertifikaat.
  4. GPS-koördinate van plaas.
  5. Registrasienommer van eiendom by landmeter.
  6. Gemiddelde aantal diere op die plaas – alle geslagte en ouderdomme.

Volgens Clack beplan hulle om die registrasie van vee-eienaars teen einde Desember 2022, begin Januarie 2023 af te handel. Die registrasie van individuele diere op die stelsel sal so spoedig moontlik volg nadat ‘n paar wetgewende uitdagings aangespreek is.  

Lig op die horison?

“Wanneer die stelsel in werking is, sal geen diere in Suid-Afrika geskuif kan word sonder dat ‘n Artikel 6-identifikasiedokument en ‘n Artikel 8-bewegingsertifikaat nie deur die stelsel uitgereik is nie. “In Suid-Soedan het die inwerkingstelling van ‘n naspeurbaarheidstelsel veediefstal met 95% laat afneem. Wat ‘n wonderlike dag sal dit nie wees as ons dit in Suid-Afrika kan regkry nie,” meen Clack.

Die LITS-komitee doen ‘n beroep op alle veeprodusente om op hierdie stelsel te registreer. Aanvanklik sal dit nie verpligtend wees om op die stelsel te registreer nie; die nodige wetswysigings moet eers plaasvind. Die grootste voordeel sal wees dat die beweging van diere in Suid-Afrika en diere vanaf buurlande, gemonitor kan word.

“Monitering sal die staat in staat stel om produsente soos individue te hanteer en nie bloot te veralgemeen nie. Die huidige voorbeeld is die Vrystaat met ‘n baie groot beheerde gebied vir bek-en-klouseer – indien die staat meer inligting gehad het, kon die beweging van vee baie maklik en eenvoudig gemonitor word,” sluit Clack af. – Elmarie Helberg, Plaas Media

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon