Archives

VF Plus: ‘Kill the boer’ ís haatspraak

Featured Ad


Na raming was daar rondom 2000 EFF-ondersteuners op Senekal op 16 Oktober 2020. Die meeste was baie militant en "Kill the boer" is kort-kort gesing. Foto: Willem van der Berg

Dit is teleurstellend dat die gelykheidshof in Johannesburg beslis het dat die lied “Kill the boer” nie haatspraak is nie aangesien dit as niks anders beskou kan word nie, sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

Volgens hom het regter Edwin Molahlehi laat blyk dat daar tegniese punte is wat die uitspraak rig, soos die feit dat daar volgens hom nie voldoende bewyse gelewer is dat die lied wel op haatspraak neerkom nie.

“Die werklikheid is dat die VF Plus reeds aan die begin van 2000 hierdie slagspreuk tot haatspraak verklaar gekry het deur die menseregtekommissie (MRK). Dit is daarom moeilik om te verstaan waarom die Gelykheidshof nou bevind dit is nie haatspraak nie.

“Die polisie het in 2003 ‘n verslag onder kommissaris Jackie Selebi as nasionale polisiekommissaris uitgereik oor plaasaanvalle en -moorde. Daarin is ook bevind dat uitsprake van politici mense aanhits tot geweld en een van die oorsake vir plaasaanvalle en -moorde is.”

AfriForum het intussen aangedui dat hy appèl gaan aanteken teen die uitspraak. “VF Plus sal wil sien dat die saak tot in die Grondwethof beveg moet word,” sê Groenewald.

Hy meen as hierdie slagspreuk as wettig beskou word, sal dit groot konflik en tweespalt in SuidAfrika sal veroorsaak aangesien ander groepe geneë sal voel om soortgelyke negatiewe en kwetsende uitsprake te gebruik.

“Dit is totaal onaanvaarbaar dat die lied met die woorde wat ‘n duidelike aanhitsing is om boere te vermoor, bloot as ‘n sogenaamde struggle-lied beskou kan word. Die omstandighede in SuidAfrika het ná 28 jaar van demokrasie ‘n punt bereik waar daar nie meer plek is vir opruiende uitsprake nie.

“Dit mag nie geduld word nie en die VF Plus is van mening dat die lied beslis ‘n aanhitsing tot geweld is en dat dit ‘n toename in plaasaanvalle en -moorde sal veroorsaak as dit gewettig word.”

 

'Geen plek vir lied in demokrasie'

Mnr. Solly Malatsi, DA-LP, sê die uitspraak bewys dat die EFF vasbeslote is om rasseverdeling aan te hits. “Terwyl die DA die hof se beslissing respekteer, glo ons dat die volgehou pogings van die EFF om die onverdedigbare in hierdie saak te verdedig, ‘n uiters gevaarlike presedent vir ons jong demokrasie stel.

“Daar is vandag geen plek in ons demokrasie om die doodmaak van enige spesifieke persoon aan te moedig nie. Om dit deur ‘n lied of op enige ander manier te doen, is onaanvaarbaar. Die DA doen ‘n beroep op die EFF en ander partye om sulke stellings te vermy.”

Malatsi sê Suid-Afrikaners wat die land se verenigde, grondwetlike en regsgebaseerde demokrasie waardeer, moet saamstaan en die EFF se “slenter” verwerp. “Rasseverdelende stellings soos die lirieke van hierdie lied belemmer ons land se najaag van versoening. Die wonde wat baie Suid-Afrikaners weens ons geskiedenis en rasseverdeling opgedoen het, kan genees word deur gesamentlike pogings om die regte van alle Suid-Afrikaners te beskerm.”

 
Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon