Archives

TLU verwelkom stappe oor verkope van skrootmetaal

Featured Ad


Maroela Media – TLU verwelkom stappe oor verkope van skrootmetaal | Maroela Media

 

Die landbouorganisasie TLU SA het nuwe maatreëls om die diefstal van infrastruktuur soos kabels, heinings en ysterpale te bekamp verwelkom.

“Dit is goed om te weet daar is geluister na al die insae wat gegee is. Dié kwessie is een wat landbou regstreeks raak met die steel van elektriese kabels – koper sowel as aluminium – draad, ysterpale, sparre (droppers), boorgatpompe en ander infrastruktuur wat ’n negatiewe uitwerking op voedselsekerheid het,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

“Dit is natuurlik ’n stap wat ons verwelkom en een wat beslis impak gaan hê, mits dit toegepas word.”

Die regering het Woensdag ʼn ses maande lange verbod op die uitvoer van skrootmetaal voorgestel as deel van pogings om misdaad te bekamp. Die diefstal van openbare infrastruktuur kos die ekonomie jaarliks miljarde rande.

“Vir ons as boere en ’n organisasie wat landbou verteenwoordig, is die belangrikste dat die wetgewing toegepas word. Dit gaan die ware toets wees soos met alles. Dié is egter ’n goeie begin en ons sal vordering en implementering fyn dophou.”

Die DA het op sy beurt laat blyk dat hy nie die voorstel steun nie en sê selfs al is daar diegene wat onwettig baat by die herwinning en handel in die metale, is daar ʼn aansienlike gedeelte van handelaars wat wel by wetgewing hou en wettig sake doen.

Mat Cuthbert, die DA se woordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, sê hierdie handelaars gaan die spit afbyt vir die regering se plan – en nie die spesiale belangegroepe verder in die staalbedryf nie.

“Die DA benadruk dat die kwessie wat die departement en die breër regering probeer pak, is ʼn misdaadprobleem en nie ʼn handelsbeleidkwessie nie. Die situasie spreek tot die regering se onvermoë om wetstoepassingsowerhede te bemagtig om onwettige bedrywighede te stuit.

“Die departement is tjoepstil oor hoe ʼn reeds oorspanne polisiemag versterk gaan word om die nuwe regulasies af te dwing, veral omdat hulle tot dusver gewys het hulle is nie in staat om dit te doen nie.”

Cuthbert sê daar is ook geen aanduiding van hoe die departement se begroting aangepas gaan word om dié soort misdaadbekamping te finansier nie.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon