Archives

Suikerbedryf se krisis verdiep: Meule in sakeredding

Featured Ad


Landbou.com  – Suikerbedryf se krisis verdiep: Meule in sakeredding | Landbou

Die feit dat die Gledhow-suikermeule in sakeredding geplaas is, is ‘n teken van die bedryf se verdiepende krisis, sê die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging.


Mnr. Andrew Russell, voorsitter van die vereniging, sê die aankondiging oor die sakeredding is ook ‘n teken dat dringende ingryping nodig is om te keer dat die bedryf se krisis verder verdiep.


Luidens ‘n verklaring deur die vereniging bied die Gledhow-meule in Stanger, KwaZulu-Natal, ‘n diens aan meer as 245 kwekers wat meer as 1,1 miljoen ton suikerriet per jaar produseer. Dit is 6% van die bedryf se totale uitset.


Hierdie boere verskaf werk aan meer as 3 400 werkers uit die omliggende gemeenskappe.


Die aankondiging oor die sakeredding volg nadat Tongaat Hulett se Suid-Afrikaanse bedrywighede in Oktober verlede jaar in sakeredding geplaas is. Russell sê dié gebeurtenis het ‘n akute krisis in die bedryf veroorsaak, vertragings in betalings aan kwekers en onsekerheid oor die toekoms van suikervermalingsbedrywighede aan die Noordkus van KwaZulu-Natal.


“Met die nuwe seisoen wat op 1 April vanjaar begin, staar soortgelyke onsekerhede die kwekers wat aan Gledhow verskaf, nou in die gesig betreffende of die meule soos gewoonlik bedryf sal word en in staat sal wees om betalings te maak vir suikerriet wat gelewer word en sy finansiële verpligtinge aan die bedryf na te kom.


“Die maalbedrywighede by Gledhow is noodsaaklik vir die meule se oorlewing en vir die kwekers in die streek.”


Russell sê die kwekersvereniging is in uitgebreide gesprekke met die bestuur van die meule, die Suid-Afrikaanse Suikervereniging en sy lede. “Ons sal elke moontlike poging aanwend om die kwekers wat aan Gledhow verskaf, te ondersteun, en om die lewensbestaan te beskerm van diegene wat deur die bedryf ondersteun word.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon