Archives

Sneeu, koue en nat toestande vandeesweek moontlik

Featured Ad


Sneeu by The Cavern in die noordelike Drakensberge teen die middel van Augustus 2022. Foto: Megan Bedingham

Veeboere word gemaan dat sneeu tot Dinsdagaand oor dele van die OosKaapse berge, asook die suidelike en suidoostelike dele van die Drakensberg kan voorkom en gevaarlike koue toestande vir vee kan skep.

 

Die gevaarlike nat, koue en winderige toestande gaan na verwagting veral die noordelike dele van die Oos-Kaap en die aangrensende dele van KwaZulu-Natal tot Woensdag beïnvloed, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Hoewel goeie neerslae tot einde Augustus oor veral die winterreëngebied verwag is, het net ligte neerslae die afgelope week oor dele van die Wes- en Oos-Kaap voorgekom. Frontale stelsels begin baie vinnig beweeg. Hulle beweeg ook verder suid of meer suidoos, wat ‘n aanduiding is dat die winter begin verbygaan.

Van den Berg sê hoewel die neerslae teen einde Augustus swakker as verwag was, kan frontale stelsels van 2 tot 4 September en van 9 tot 11 September reën van tot 30 mm vir elkeen van dié periodes oor sommige dele tot gevolg hê, hoewel ander dele slegs sowat 10 mm kan kry. Die meeste reën word verwag oor die Kaapse Wynland en nader aan Kaapstad, met minder reën langs die Weskus en oor die Rûens en Suid-Kaap. Die kans op verdere reën vir die res van September en ten minste die eerste deel van Oktober is baie skraal.

 

Droogterisiko’s in winterreëngebied

Van den Berg maan teen droogterisiko’s vir die wintergraanbedryf, maar ook droogte vir druiwe en vrugte as gevolg van onvoldoende besproeingswater in opgaardamme. Met min reën in die tweede deel van September kan grondwatertekorte ontstaan in die somer wanneer produksie moet plaasvind. Hoewel nog reën moontlik is in die eerste twee weke van September, dui voorspellings aan dat dit moontlik nie voldoende sal wees om watervlakke van damme aan te vul nie.

Van den Berg sê die groei en ontwikkeling van baie wintergrane is vanjaar stadiger vanweë redelik lae minimum temperature. Gewasse gaan in die laaste deel van September en selfs die eerste deel van Oktober steeds baie water nodig hê om droogteskades te beperk. Die kans is dus goed dat opbrengste benadeel kan word.

Die situasie gaan die vlakke van veral kleiner besproeingsdamme raak, maar veral die vlak van die belangrike Clanwilliam-dam, wat tans 69% vol is. “Die Clanwilliam-dam met sy huidige kapasiteit moet 100% vol wees voor die begin van die somerseisoen anders gaan daar watertekorte wees in die somer. Die kans op verdere reën wat die vlak kan aanvul, is baie swak.

Koue lentedag

Intussen word verwag dat 1 September 2022 ‘n koel dag gaan wees, hoewel ryp nie voorspel word nie. Ligte reën kan dan oor die sentrale tot westelike dele van die land voorkom. Daar word steeds baie min reën verwag oor die grootste deel van die somerreënvalgebied vir September, maar die kans op reën kan begin verbeter in Oktober oor veral die sentrale tot oostelike dele.

 

Laaste ryp

Van den Berg sê daar is die afgelope dekade ‘n neiging dat die laaste rypdatums verder aanskuif, nader aan die somer. So byvoorbeeld was daar op 30 Oktober 2019 ernstige rypskade by veral winterkoring in die Benede-Oranjerivier.

“Hoewel sporadiese koue al omtrent in enige maand van die jaar voorgekom het, soos op Kersfees in 1986, is die frekwensie van voorkoms hoër in die afgelope dekade. Daar was byna elke jaar sedert 2016 rypskade met baie lae minimum temperature in Oktober. Dit gebeur ook nadat daar reeds ‘n baie warm periode in September en gedeeltes van Oktober was.”

Langtermynneigings toon dat ryp in die Vrystaat asook Benede-Oranjerivier nou tot middel Oktober kan voorkom.

Korttermynvoorspellings vir hierdie gebiede toon dat ryp kan voorkom van 4 tot 6 September, 11 tot 13 September, 25 tot 27 September en 1 tot 3 Oktober. Ryp en lae temperature kan dan ook in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap by die Drakensberge voorkom.

Die kans op rypskade in die meer noordelike gebiede soos die noordoostelike dele van Noordwes, Limpopo, die noordelike dele van Gauteng, die Laeveld en die noordelike dele van KwaZulu-Natal is baie skraal.

 
Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon