Archives

SA wynbedryf vier 363 triomfantlike jare

Featured Ad


https://agtag.co.za/category/14/post/30265

Hierdie betekenisvolle dag vier die begin van die land se wynbedryf, en nooi almal met ‘n passie vir Suid-Afrikaanse wyn om bymekaar te kom, waar ook al hulle in die wêreld is, om hierdie feestelike geleentheid aanlyn by te woon.

 

Die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid word gratis aangebied en almal kan dit bywoon. Gaan eenvoudig op die dag na www.sawineharvest.co.za om die geleentheid aanlyn te besigtig.

 

Suid-Afrika is die enigste land ter wêreld wat die bestaansdatum van ons wynbedryf akkuraat kan aandui. Dit is te danke aan Jan van Riebeeck se dagboekinskrywing op 2 Februarie 1659 wat lui: “Heeden is Goode loff van die Caepse druyven d’eerste mael wijn geparst”.

 

“Hierdie geleentheid het ‘n betekenisvolle en waarlik onvergeetlike dag geword vir beide wynmakers en wynliefhebbers. Dit vereer die geboorte van die wynbedryf in Suid-Afrika, dit vra vir ‘n seën op die nuwe oes, en bring hulde aan die voorlopers in dié bedryf,” sê Jean Naudé, uitvoerende hoof van Groot Constantia.

 

Tydens die geleentheid gee die wynbedryf erkenning aan individue vir hul besonderse bydrae in die volgende kategorieë: Visioenêre Leierskap (1659-toekenning), Diversiteit en Transformasie, Wynwaardering en Wynbevordering, asook Wingerdbou en Wynskepping. Die seremonie word sedert 1974 aangebied om individue te vereer wat groot vordering in die bedryf gemaak het. Vorige toekennings is onder andere gemaak aan Nelson Mandela, die Onbesonge Wynwerkers, Norma Ratcliffe, Beyers Truter en Charles Back.

 

“Ons is opgewonde oor die komende oesseisoen en sien daarna uit om dit saam met die res van die bedryf en wynliefhebbers oor die wêreld heen te vier,” sê Naudé.

Die seën van die 2022-oes vind plaas in die wingerde van Groot Constantia deur ds. Desmond Meyer van die Verenigende Gereformeerde Gemeente Koelenhof. Groot Constantia is Suid-Afrika se oudste wynproduserende plaas wat in 1685 deur die destydse Goewerneur van die Kaap, Simon van der Stel, gestig is en word beskou as die historiese geboorteplek van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

“Ons moedig julle aan om deelnemende wynkelders in hul oesfeeste te ondersteun deur jou nuus en stories op sosiale media te deel en ‘n glas Suid-Afrikaanse wyn te geniet op Woensdag, 2 Februarie 2022. ‘n Kis uitsoek Suid-Afrikaanse wyne kan gewen word te danke aan wine.co.za wanneer jy plasings op sosiale media maak en die hutsmerk #sawineharvest2022 gebruik,” voeg Naudé by.

Moenie vergeet om ‘n aantekening in jou dagboek te maak vir Woensdag, 2 Februarie 2022 om 20:00 nie en besoek www.sawineharvest.co.za om deel te wees van die vieringe. Gesels op sosiale media by @sawineharvest en bring hulde met die hutsmerk #sawineharvest2022.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon