Archives

Riglyne vir die beweiding van mieliereste en weimielies

Featured Ad


Mieliereste of ongeoeste mielies (weimielies) is ’n goeie basisvoer om skape mee af te rond of te oorwinter. Die opbrengs en drakrag van weimielies is hoër as ander aangeplante droëlandweiding en pas goed in ’n herfs- of winter-voervloeibeplanning.

Skape is selektiewe vreters en maak ten volle gebruik van mieliepitte. Waar skape 100% van die beskikbare graan gebruik, gebruik beeste slegs sowat 60%. Die beste resultate word verkry met goeie gehalte dubbeldoel-speenlammers van tussen 28 en 32kg. 

Weimielies as winterweiding vir skape

Die energie-inhoud van weimielies kan egter hoog wees, veral as baie graan tydens oes op die grond val. Indien skape nie by die hoë koolhidraatinhoud aangepas is nie, kan hulle suurpens (asidose) ontwikkel. Onaangepaste lammers kan erge maagwerkings ontwikkel, wat die moontlikheid van brommeraanvalle verhoog.

Lammers wat nog by die ooie loop moet minstens drie weke oud wees voor hulle weimielies begin vreet, ten einde skeiding van die lammers en ooie te verhoed. ’n Paar ouer skape kan ook by speenlammers gesit word om hulle vinniger te leer vreet.

Aanpassing op weimielies en reste

Skape kan op verskeie maniere aan oesreste of weimielies gewoond gemaak word. Eerstens kan ’n lek wat geformuleer is om suurpens en blaasstene te voorkom, twee weke vóór diere op die lande gaan, en vir die volle weidingstydperk, voorsien word.

Diere moet by ureum-bevattende lekke aangepas word. Gee klein hoeveelhede lek twee maal per dag en verseker 5cm vreetspasie per lam. Sit die lekbakke naby die waterkrippe om lekinname te bevorder. Omdat enkele diere min of geen lek vreet nie, is hierdie metode egter nie ’n waarborg teen suurpens nie.

Skape kan ook gelykmatig oor 15 dae vooraf op mielies aangepas word. Begin teen 200g heelmielies of mieliekoppe per kleinvee-eenheid (KVE) op dag een, en vermeerder met 100g elke tweede dag, tot 800g/KVE/dag op dag 14. Jaag skape op dag 15 in die lande.

’n Ander opsie is om die weityd te beperk. Beperk beweiding vir die eerste twee dae tot 15 minute per dag. Verhoog dié tydperk elke tweede dag met nog 15 minute, tot op een uur en 45 minute op dag 14. Daarna kan skape die lande voltyds bewei.

Dosering met Megasphaera elsdenii

Deur skape met Megasphaera elsdenii te doseer, kan hulle direk op oesreste/weimielies gejaag word, sonder die gebruiklike aanpassingspraktyke. Nie net spaar dit geld en tyd nie, maar die risiko vir suurpens verminder, terwyl die skape se groei en gesondheid ook verbeter.

Megasphaera elsdenii word mondelings teen 10ml per skaap toegedien, op die dag wat hulle in die lande gejaag word. Wanneer skape van een land na die volgende geskuif word, moet hulle weer gedoseer word. Megasphaera elsdenii kan ook as ’n doeltreffende behandeling vir suurpens gebruik word, teen 10ml per skaap. Verseker dat skape wat gedoseer is mielievoeding ken, en dat hulle binne ses uur ná dosering op die mielies of reste is.

Voedingswaardebeperkings

Die proteïenwaarde van mielies is te laag vir ooie met lammers en kan tot boepenslammers lei. Die minerale (Ca:P-verhouding) is ongebalanseerd en die oormaat fosfor kan blaasstene by hamels en ramme veroorsaak, veral as hulle langer as 75 dae op weimielies loop. ’n Lek met die nodige proteïene, spoorminerale en medikasie  om suurpens en blaasstene te voorkom, is noodsaaklik.

 

Verwyder skaam vreters en plaas hulle op alternatiewe voergewasse of weiding. Kampe moet nie kaal gevreet word voordat diere na ’n nuwe kamp verskuif word nie. Skuif hulle betyds na ’n vars kamp terwyl daar nog pitte sigbaar is. Maak gebruik van ’n ander trop met laer voedingsbehoeftes (droë ooie) om die land skoon te vreet. Monitor skape daagliks vir suurpenssimptome.

Praktiese bestuurswenke

Praktiese wenke vir die bestuur van skape op weimielies/oesreste sluit in:

  • Weimielies kan so vroeg as na die eerste ryp bewei word. Om aanpassing te vergemaklik, kan weimielies reeds in die groenmieliestadium bewei word. Lammerooie kan vroeër ingejaag word.
  • Lammerooie op weimielies toon verhoogde melkproduksie en hul lammers ervaar ook minder speenskok.
  • Lammers op weimielies word gewoonlik swaarder as voerkraallammers om die gewenste vleisgradering te bereik. Om die beste slagpryse te kry, hou dus jou oog op hul groei.
  • Lammers moet vroegtydig alle nodige inentings ontvang en teen parasiete behandel word.
  • Oor-implantate kan gebruik word.
  • Daaglikse waarneming en behandeling is belangrik. Hou troppe klein om bestuur te vergemaklik en onttrek siek diere.
  • Spoorelementtekorte, veral mangaan, sink en koper, kom by weimielies voor en moet aangevul word.
  • Maak waterkrippe twee tot drie keer per dag skoon. – dr Johan van Rensburg (BVSc MRCVS), besturende direkteur, ABE Biotech

Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rensburg by 082 336 5498 of johan@abebiotech.co.za.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon