Dit is die regering se skuld dat baie opkomende boere nie die mas opkom nie en die blaam vir vele mislukte grondhervormingsprojekte kan slegs voor die deur van onbekwame staatsamptenare gelê word.
Dít was Dinsdag die boodskap toe AfriForum en Saai inligting oor die stryd vir grondsekerheid bekend gemaak het.
Die opkomende boere vorm deel van die groot aantal boere wat ‘n soortgelyke stryd voer vir grondsekerheid oor die staatsgrond waarop hulle tans suksesvol boer, volgens Saai en AfriForum.
Die twee organisasies glo die onwilligheid en onvermoë van die staat om sy begunstigdes se basiese belange, eiendom en regte te beskerm, is die vernaamste oorsaak dat daar nog nie ‘n klas van winsgewende swart boere in Suid-Afrika gevestig is nie.
Drie opkomende boere het hul verhale en stryd om te boer op grond wat aan hulle toegeken is, vertel.
Van die ernstige probleme wat hul uitlig, sluit in langtermynhuurkontrakte wat nie toegeken word nie, of nie weer hernu word as dit verstryk het nie, gevalle waar grond wel aan hul toegeken word, maar dit deur ander mense benut of beset word, en boere met huurkontrakte, maar geen titelaktes vir hul plase nie.
Vanweë die gebrek aan sekerheid oor eienaarskap van die plase, veral wanneer daar geen titelaktes is nie, raak sekuriteit ‘n probleem.
Dit is veral die wydverspreide gebruik dat die staat suksesvolle opkomende boere van hul staatshuurplase afskuif om vir kaders plek te maak. Dit het volgens die twee organisasie onlangs tot groot spanning in Mpumalanga en die Oos-Kaap aanleiding gegee.
In die geval van mnr. Vuyani Zigana, van die plaas Bersheba in KwaZulu-Natal, word hy gedwing om grond met ander boere te deel. Hy het voorheen op ‘n staatshuurplaas geboer, maar is later verskuif na ‘n ander plaas waar hy nou saam met twee ander boere op die grond ‘n bestaan probeer maak.
AfriForum en Saai het met regstappe begin. Hoewel hulle ‘n onderneming van me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, ontvang het dat hierdie gevalle stopgesit sal word, blyk dit amptenare in haar departement steur hulle nie daaraan nie.
‘n Groot aantal boere wat suksesvol op staatsgrond boer, ly onder onwettige besettings, betredings en mense wat ‘n deel van hulle grond kaap om op te plak of ‘n eie boerdery daarop te bedryf. Die polisie beskou dit in die algemeen eerder as politiekery as ‘n misdryf en glo dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling die probleem moet takel.
Mnr. Whiskey Kgabo, van die plaas Ledzee naby Tzaneen in Limpopo, boer op ongeveer 800 hektaar met onder meer mango’s. Hy is al vir 38 jaar ‘n boer. Van sy grootste probleme is mense wat sy boorde aan die brand steek, onwettige strukture op sy plaas oprig en die polisie wat sê hulle kan niks doen nie, want hy is nie die wettige eienaar van die grond nie”.
Een van die groot struikelblokke bly ook toegang tot finansiering, veral by private instellings, wanneer boere nie eienaarskap van hul grond kan bewys nie.
Die onsekerheid oor benuttingsreg maak dit onmoontlik om optimaal op hul plase te belê, en boorgate, omheining, veegeriewe en boorde of besproeiing bly agterweë omdat die staat hulle dikwels probeer wegskuif, of dwing om met ander mense hul plase te deel.
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê dit is van nasionale belang dat swart boere eienaarskap van hul plase moet kry, “anders sit ons oor tien jaar weer met twee klasse boere in die land – wit boere wat hul eie grond besit en swart boere wat by die staat huur. Niemand verstaan waarom die staat nie sy burgers met eienaarskap vertrou nie. Hulle kry nie eens huurkontrakte nie. Deur onsekere gebruiksreg op grond sonder kontrakte of met huurkontrakte in stand te hou, skep die staat ‘n afhanklikheidstrik waaruit opkomende boere nie kan ontsnap nie.”
Mnr. Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sê dat dié burgerregteorganisasie en Saai saam met tradisionele leiers in afgeleë landelike gebiede betrokke is by landbou-ontwikkelingsprojekte. Hy verstaan hoe moeilik dit is om mense wat min of geen ervaring van kommersiële landbou het en nie toegang tot finansiële hulpbronne het nie, te ondersteun om suksesvol te boer.
“Die staat se totale onbeholpenheid om vir opkomende boere wat suksesvol op staatsgrond boer, grondsekerheid te verskaf, bedreig welvaartskepping en voedselsekerheid en wek agterdog oor of die staat werklik opkomende boere se sukses wil verseker. Dit is duidelik dat die staat nie die vermoë het om die grond te bestuur wat dit besit nie. Om daarom te praat van die uitbreiding van staatseiendom, deur byvoorbeeld onteiening, is eenvoudig irrasioneel,” sê Uys.
Didiza het haar departement se jaarverslag vir 2021-22 onlangs by die parlement ingedien. Volgens haar bly grondhervorming ‘n kritieke deel om die landelike ekonomie te transformeer. “Die departement het 55 235 hektaar grond deur die Proactive Land Acquisition Strategy (PLAS) bekom wat vir herverdeling beskikbaar is.
“Gedurende die jongste boekjaar het die departement meer as 670 000 hektaar landbougrond aan boere, entiteite, gemeenskappe, landbewoners en huurders toegewys. ” Sy se in haar verslag die administrasiestelsel, veral met die bestuur van eiendom, bly egter ‘n groot probleem vir haar departement.
Buy, Sell & Trade Agricultural & Heavy Equipment
Our Facebook Groups
© 2021 All Rights Reserved. AgriOnline Pty Ltd View Our Policies HERE