Archives

Olieprys kan brandstofpryse later vanjaar weer beduiwel

Featured Ad


Vanaf Woensdag 7 September geld die volgende brandstofpryse:

  • 95 oktaan- en 93 oktaan-petrol: R2,04/liter goedkoper;
  • Diesel met 0,05% swael 56c/liter goedkoper;
  • Diesel met 0,005% swael 46c/liter goedkoper.

Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agribesigheid, sê die volgehoue daling in die gemiddelde prys van Brent-ruolie, wat in Augustus met 10,5% teenoor die vorige maand tot $94/vat gedaal het, was die grootste rede vir die daling in plaaslike brandstofpryse. Die versterking van die rand het ook daartoe bygedra.

Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) en sy vennote se onlangse aankondiging dat hul produksie vanaf Oktober vanjaar met 100 000 vate/dag verminder sal word, vertroebel egter die vooruitsig vir die ruolieprys en kan prysstygings tot gevolg hê.

“Hopelik sal dit verreken word deur ’n moontlik hupstoot in voorraad van Iran as dié land se kernooreenkoms met Amerika realiseer, asook globale resessionêre omstandighede wat ekonomiese aktiwiteit verlangsaam.”

Die huidige daling in brandstofpryse is goeie nuus vir die landbousektor, veral aangesien die nuwe somergewasseisoen om die draai is en daar in die komende weke in die oostelike gebiede van die somerreënstreek geplant sal word.

“ ’n Prysvermindering by die pomp verskaf verligting vir boere wat hoë insetkoste ervaar met die prys van misstowwe en voer wat steeds hoog is vergeleke met verlede jaar. Die koste om somergewasse te plant, wintergewasse te oes en die daaglikse verspreiding van vars produkte en vleis na markte sal aansienlik verminder.

“Nog goeie nuus vir die sektor is dat hoewel brandstofpryse steeds relatief hoog is vergeleke met verlede jaar, het die internasionale pryse van die meeste misstowwe reeds begin daal. Die pryse van diammoniumfosfaat (DAP) en urea het die afgelope maand met onderskeidelik 4,4% en 1,4% tot $320/ton en $704/ton gedaal het.”

Hoër brandstofpryse is een van die redes hoekom plaaslike verbruikersprysinflasie die hoogte ingeskiet het. Dit het daartoe gelei dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank ’n aggressiewe rentekoerssiklus van verhogings van stapel gestuur het. As gevolg daarvan kos boere se skuld hulle meer en word ’n moontlike demper op produksie-uitbreiding geplaas.

“Daar word verwag dat laer brandstofkoste sal help om inflasionêre druk te verlig en ’n demper op verhogings van die rentekoers op mediumtermyn kan plaas. Ons verwag dat verbruikersprysinflasie en die rentekoers later vanjaar hoogtepunte van onderskeidelik byna 8% (repokoers) en 10,25% (primakoers) sal bereik.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon