Archives

Nampo Kaap: Terug met mening en beter as ooit!

Featured Ad


Nampo Kaap beloof om vanjaar nóg groter en beter as die laaste aanbieding in 2019 te wees. Uitstallings van die nuutste werktuie en jongste tegnologie vir graan-, vee-, vrugte- groente- en wingerdprodusente, asook ander rolspelers in die landboubedryf, sal hiervoor sorg.

Nampo Kaap vind van 14 tot 17 September op Bredasdorp Park, Bredasdorp plaas. Dit is die eerste keer dat die geleentheid oor vier dae aangebied word én op ʼn Saterdag oop sal wees.

Kaartjies sal van begin Julie af aanlyn beskikbaar wees teen R80 per volwassene en R40 per skoolgaande kind per dag. Toegang vir kinders onder ses is gratis.

Wat besoekers te wagte kan wees

Besoekers kan na bykans 500 uitstallings, verskeie demonstrasies en besprekings van aktuele landbousake uitsien. Besoekers wat in die veebedryf belangstel sal die volgende geleenthede kan bywoon:

  • Die BKB Merino Classic, die Merino-ras se nasionale kampioenskappe (15 en 16 September).
  • Die Intensiewe Veeskool aangebied deur Plaas Media (13 September, voor die amptelike afskop van Nampo Kaap).
  • Die eindrondte van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie, ook deur Plaas Media aangebied.
  • ʼn Uitstalling van 15 veerasse.
  • Wolskeerdemonstrasies in die Voermol-gebou.

Ander hoogtepunte is:

  • Die Overberg-streekjeugskou wat na afloop van die BKB Merino Classic in die BKB-veesentrum plaasvind.
  • ʼn Georganiseerde skoleprogram vir leerders met landbou as ʼn vak.
  • ʼn Volledige uitstalling van ʼn vertikale boerderystelsel in die Waterwise-sentrum.
  • Die Elim-veldblomskou, ʼn uitstalling van die blommeskat van die Unesco Kaapse Fynbos Bioom in die Shell-saal.
  • Nedbank se blommerangskikkingsprogram deur Marjolijn Malan.
  • ʼn Daaglikse perdevertoning met ʼn verskeidenheid formate en ruiters in die perde-arena.

Almal is welkom by Nampo Kaap

Henk Aggenbach, voorsitter van Nampo Kaap, en sy bestuur sien uit om alle produsente, plaaspersoneel, ander rolspelers in die landbouwaardeketting en verbruikers op Bredasdorp Park te verwelkom.

Besoekers kan uitsien na ʼn veilige ekspo met die allernuutste tegnologie en om baie te sien en te leer. As die voete moeg en seer is, is daar voldoende ontspanningsplekke waar besoekers iets kan eet en drink en kuier. Etes en vloeibare lafenis kan vanjaar onder meer geniet word by die Standard Bank Ruêns Kollege Steakhouse, die Hollard Bistro, die BKB Suideroord Teetuin, die Elim Teetuin en verskeie snoepies en rus-areas.

Daar is iets vir almal by Nampo Kaap 2022. Daar is vermaak, kuierplekke en rus-areas.

Lede van Graan SA, die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) en die Rooivleis Produsente-organisasie sal daagliks by die Graan SA-ontvangs in die Absa-sentrum verwelkom word. Hier kan hulle tydens Nampo Kaap kom blad skud en bene rek. Vir die lede is daar spesiale parkering aangrensend tot die ingang na die saal.

Na die sukses van 2018 en 2019 se geleenthede is skouer aan die wiel gesit om vanjaar ʼn groter en beter uitstalgeleentheid aan uitstallers uit die landbouprodukte- en -dienstemark te bied. “Strategiese veranderinge is op die terrein aangebring om meer uitstallers te huisves,” sê Aggenbach.

Die ou perde-arena is aansienlik verbeter en die perdestalle wat jare gelede gevestig is, is in ʼn skouring omskep. Die Santam-ouditorium is nou ʼn dubbelverdieping gebou waar Nasie in Gesprek op die grondverdieping aangebied sal word. Die nuwe damessalon sal ook in hierdie gebou gehuisves word.

“Die uitstallings sal die jongste tegnologie oor ʼn breë spektrum aan produsente uit verskillende bedrywe bring. Graanprodusente sal onder andere uitstallings met presisieplant-, bemesting-, bespuiting-, oes- en baaltoerusting kan geniet,” voeg Aggenbach by.

Maatskappye soos Syngenta, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Garsteling (Sabbi), SAB InBev, Omnia en AECI, het akkerboupersele waar besoekers aanplantings van die nuutste kultivars en die werking van onder meer kunsmis en chemiese middels in die praktyk kan besigtig.

Nampo Kaap huisves akkerboupersele waar besoekers aanplantings van die nuutste kultivars en die werking van onder meer kunsmis en chemiese middels in die praktyk kan besigtig.

Stellenbosch Universiteit sal die belangrikheid van landboumetodes op beperkte grond en optimale waterbenutting bekendstel. In die hidroponika-uitstalling in die Waterwise-sentrum word van nader gekyk na die waarde wat vertikale stelsels tot volhoubare, winsgewende tuinbou kan toevoeg. Die sentrum spog met ʼn volledige akwaponiese- en hidroponiese kweekstelsel.

Kleinboere se behoeftes word onder meer by beide die Waterwise-sentrum en tydens Plaas Media se Intensiewe Veeskool hanteer.

Besoekers kan ook na die Nasie In Gesprek-reeks met Theo Vorster in die Santam-ouditorium, daaglikse 4×4-demonstrasies, waterboordemonstrasies en die Engen-veteraantrekkers uitsien.

Die skoner geslag word vanjaar behoorlik getrakteer met ʼn leersame damesprogram, wat kuns, kos, klets en vermaak sal insluit. Boonop is daar ook die splinternuwe skoonheidsalon met skoonheidsterapeute in die verbeterde Santam Ouditorium.

Maak ‘n draai by die BKB Merino Classic

Die Nasionale Merino-kampioenskap, bekend as die BKB Merino Classic 2022, word op 15 en 16 September tydens Nampo Kaap in die nuwe BKB-veesentrum aangebied. Die sentrum was voorheen ʼn perdestalkompleks wat aangepas is om kampioenskappe soos die BKB Merino Classic aan te bied. Beoordeling sal gelyktydig in drie ringe plaasvind en al die diere sal onderdak in die sentrum gehuisves word.

Die BKB Merino Classic word onder die vaandel van Merino SA aangebied. Die Merino’s sal onder meer in die kortwol-, langwol, maksi- en spesiale kampioenskapklasse beoordeel word. BKB is die hoofborg van dié kampioenskappe en Plaas Media is die hoof mediaborg. Plaas Media is ook die borg van die spesiale toekenning aan die “Teler van Kampioene”.

Frederick Neethling van die BKB Merino Classic se reëlingskomitee sê besoekers kan die beste teelmateriaal van top stoetboere in die land kom besigtig. “Ons land se beste telers het ingeskryf en met die nuwe BKB-veesentrum is Nampo Kaap gerat om hierdie kleinveeskouspel ʼn geleentheid van ʼn leeftyd te maak.”

Volgens Pierre Vlok van BKB lewer die distrik van Bredasdorp-Napier jaarliks die tweede meeste wol in Suid-Afrika, naas die distrik van Caledon-Riviersonderend. Die Bredasdorp-Napier-skeersel beloop jaarliks sowat 1,1 miljoen kilogram en het ʼn waarde van sowat R176 miljoen.

Geleenthede vir toekomstige landbouers

Nampo Kaap huisves vanjaar die eindrondte van die 2022 Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie aan. Die kompetisie word deur Plaas Media aangebied.

Volgens Lynette Louw, uitvoerende hoof van Plaas Media, het die kompetisie vroeër vanjaar vir deelnemers tussen 19 en 35 jaar oud afgeskop. Uitdunrondtes is in elke provinsie gehou en die streekwenners sal op Bredasdorp meeding, en die nasionale wenner sal tydens Nampo Kaap aangewys word.

Die wenner se pryse sluit ʼn oorsese reis ter waarde van R55 000 in, waartydens die wenner homself teen internasionale afslaers kan meet.

Aggenbach sê Nampo Kaap 2022 bied met jeugaktiwiteite ʼn stewige bydrae tot ʼn doelgerigte toekoms vir landbou. Die Overberg Streekjeugskou in die BKB-veesentrum sal vanjaar sowat 175 deelnemers hê.

ʼn Omvattende skoleprogram word aangebied vir leerders uit die Swartland met landbou as ʼn skoolvak. Skole in die Overberg-distrik se biologie- en wiskunde-leerders word ook genooi. Die Wes-Kaapse Departement van Landbou koördineer die program in samewerking met ondersteuningsborge soos Neptune.

Leerders sal blootgestel word aan die nuutste tendense in vertikale boerderystelsels, akkerbou, diereproduksie en volhoubare landbou. Spesiale klem sal op die rol van die Departement van Landbou, asook loopbaangeleenthede in landbou, geplaas word.

Wes-Kaapse blommeprag

’n Nuwe spesiale ruimte is ingerig vir die blommeskat van die Unesco Kaapse Fynbos Bioom. Blomliefhebbers kan hulle in die juwele van die Elim-veldblomskou in die Shell-saal kom verlustig. ʼn Wye verskeidenheid fynbos- en veldblomfamilies sal uitgestal word.

Met die Nedbank-blommerangskikkingsprogram sal Marjolijn Malan, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Blomme-unie se Nasionale Onderwyspaneel en ʼn lid van die Wes-Kaapse Blommerangskikkersvereniging, haar slag met fynbos en veldblomme uit die streek wys.

Verkeersbeheer en logsitiek

Nampo Kaap het die verwagte verkeersvloei rondom Bredasdorp Park deeglik hersien. Die twee parkeerterreine wat vroeër met 2ha vergroot is, het nog ʼn parkeerterrein noord van die park bygekry. Bredasdorp Park het vier ingangshekke vir besoekers, sowel as die veeskouhek.

Vanjaar sal daar ongeveer 500 uitstallers by Nampo Kaap 2022 wees.

Besoekers en uitstallers wat beoog om na Nampo Kaap 2022 te vlieg sal die aanloopbaan by Andrew’s Vliegveld buite Bredasdorp kan gebruik.

Bespreek nóú jou kaartjies en verblyf

Verblyfbesprekings moet vroegtydig gedoen word. Skakel die Kaap Agulhas Toerismekantoor by 028 424 2584 of 082 896 2225 en vra vir Tirzah Atkins, of besoek www.overberginfo.com vir verblyf naby of in Bredasdorp, Napier, Struisbaai, Waenhuiskrans en L’Agulhas, Swellendam, Caledon, Stanford en Hermanus.

Vir inligting oor Nampo Kaap 2022 besoek www.expo.org.za. Skakel 028 050 1385 of 072 905 5111 of stuur ʼn epos aan admin@expo.org.za. Toegangskaartjies is by www.ticketpros.co.za beskikbaar.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon