Archives

Meer as 30 000 woon Nampo Kaap by.

Featured Ad


Die 3de aanbieding van Nampo Kaap het onlangs plaasgevind. Graan SA, tesame met Bredasdorp Park NPC, is bly oor die rekord 32 640 besoekers.

Die derde aanbieding van Nampo Kaap, en die grootste nóg, het onlangs plaasgevind. Graan SA, tesame met Bredasdorp Park NPC, is bly oor die rekord 32 640 besoekers wat Nampo Kaap oor die vier dae besoek het, om die meer as 500 uitstallers te besigtig.

Besoekers en uitstallers was geseënd met heerlike weersomstandighede, ten spyte van die reën wat die graanprodusente in die gebied so nodig het. “Dit was wonderlik om na ʼn afwesigheid van twee jaar weer Nampo Kaap te kon aanbied,” het Toit Wessels, Graan SA se assistentbestuurder van Nampo gesê.

“Die positiewe terugvoer van die uitstallers in terme van besigheidstransaksies bly egter steeds een van die belangrikste en mees akkurate maatstawwe vir sukses, en die uitstallers het vir seker baat gevind by dié hoogtepunt op die Kaapse landboukalender.”

Die vele nuwe toevoegings tydens die week, veral die Elim-veldblomme-uitstalling, die Merino Classic en die groot getal boereplanne-inskrywings, was almal treffers. Die dames is vanjaar heerlik verras met die opsie om die skoonheidsalon te besoek vir ʼn bederf uit die boonste rakke.

Besoekers aan Nampo Kaap was verstom oor die indrukwekkende Nedbank-blommerangskikkingsuitstalling onder leiding van Marjolijn Malan. Vir Nampo Kaap 2022 het Marjolijn ’n reuse-gerekonstrueerde protea-installasie en ’n fantasievoël wat gemaak is van volstruis- en bloukraanvoëlvere, en honderde sewejaartjies gebou.

Die Overberg Jeugskou was nog ʼn hoogtepunt tydens Saterdag se program. As een van agt streekskompetisies in die Wes-Kaap waaraan leerders kan deelneem om te kwalifiseer vir die Wes-Kaapse Jeugskoukampioenskappe wat in Maart 2023 plaasvind, is ʼn ongelooflike 176 inskrywings in 14 klasse ontvang. Die Merino Classic 2022 het sy belofte nagekom en die beste Merino’s in Suid-Afrika onder een dak ten toon gestel.

“Besoekers aan Nampo Kaap was uitgehonger vir graanpraatjies en saamkuier en het behoorlik uitgesien om dit wat landbou bied, te kom beleef. Graan SA het positiewe en waardevolle gesprekke met Wes-Kaapse premier, Allen Winde, sowel as die Wes-Kaapse minister van landbou, dr Ivan Meyer gehad,” het dr Pieter Taljaard, hoof uitvoerende bestuurder van Graan SA gesê.

“Die waarde vir produsente om nuwe tegnologie op een platform te sien en maklik te vergelyk, kan nie onderskat word nie. Nuwe idees vir aanpassings en nuwe ontwerpe is oral oor te vind en die netwerkgeleenthede met bestaande én nuwe lede en landbourolspelers se bestuurspanne, is legio,” het dr Taljaard afgesluit.

Die gewilde Nasie In Gesprek-platform het verskeie relevante onderwerpe soos infrastruktuur, plattelandse herlewing, ekonomie, wintergrane, landelike veiligheid, en tegnologie en strategieë vir die toekoms aangespreek.

Volgende Nampo Kaap reeds in die pyplyn

Nampo Kaap 2023 is reeds in die beplanningsproses met die datums van 13 tot 16 September 2023 te Bredasdorp Park vasgestel. Met die moontlike toekomstige betrokkenheid van ander georganiseerde landbou-instansies, beloof die Nampo Kaap-platform om in ’n ieder en ’n elk se behoeftes te voorsien – voorwaar dié landboutentoonstelling in die Suide.

Aansoeke vir uitstallers wat deel wil word van Nampo Kaap 2023 open 1 Februarie 2023. Aansoekvorms en verdere inligting is op www.nampo.co.za of www.nampokaap.co.za verkrygbaar.

Graan SA spits nou met opwinding sy aandag op die eerste Nampo ALFA – die vee-, jag- en buitelewe-ekspo wat van 29 September tot 1 Oktober 2022 by Nampo Park aangebied word. Vir meer inligting, besoek www.nampoalfa.co.za. – Persverklaring, Nampo Kaap

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon