Archives

Ligte reën oor winterreënstreek volgende drie weke verwag

Featured Ad


Die reën is skaars vanjaar, die gewasse is kort, ontwikkel ongelyk en die gronddamme is halfvol. Boere hoop die reën kom betyds om die oes te red. Foto: Amelia Genis

Die reën is skaars vanjaar, die gewasse is kort, ontwikkel ongelyk en die gronddamme is halfvol. Boere hoop die reën kom betyds om die oes te red. Foto: Amelia Genis

“Ons kort nog sowat 100 mm vir die seisoen. As ons dit betyds kry, kan ons nog kyk na ‘n mooi oes op die lande,” sê mnr. Andries Theron, ‘n boer van die distrik Moorreesburg. “Die afgelope weke was die graan se toestand basies dieselfde met die graan wat aan die lewe bly met die reën wat wel voorkom en hitte wat beperk is.

“Die wintergraan is in ‘n kritieke stadium. Ons kort nou regtig reën met die koring wat in korrelvulstadium is en die kanola wat in die peulvulstadium is,” sê Theron. “Ons hoop regtig vir goeie neerslae nog in die komende weke.”

Mnr. Richard Krige, boer van die distrik Caledon en ondervoorsitter van Graan SA, sê hulle kort nog heelwat reën vir ‘n goeie oes. Hoewel boere bekommerd is oor die huidige seisoen, is baie van hulle ook al besig om hul potlode skerp te maak vir beplanning rondom volgende seisoen. “Ons boer met een oog op die wolke en een oog op die berekeninge.”

Krige sê insetkoste in die Overberg is hoog en daarom moet boere beplan hoe hulle in komende seisoene daarop gaan bespaar en of hulle meer of minder gaan plant.

 

Droogtestremming en ligte neerslae

Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê met die minder as verwagte reën wat die afgelope twee weke voorgekom het, begin wintergraan plek-plek droogtestremming ervaar. “Dit is ook nou die periode waar die spits van waterverbruik bereik word en waterverliese van 3 mm tot 5 mm per dag kan beloop, veral met warmer en winderige toestande. Heelwat verdere reën sal benodig word tot ten minste middel Oktober aangesien die grondwaterstatus swak is.”

Van den Berg sê met die neerslae van 10 mm en minder wat die afgelope winter gereeld voorgekom het, het die bewolkte toestande gehelp om waterverliese te beperk.

Verdere ligte neerslae kan voorkom oor die Swartland, Rûens en Suid-Kaap van 18 tot 21 September, maar minder as 15 mm word verwag. Ligte reën is ook moontlik op 24 en 25 September en in die eerste week van Oktober.

“Redelik lae dagtemperature van 20 °C of laer kan voorkom, wat sal help dat evapotranspirasie nie te hoog is nie, maar dit kan ‘n ongunstige invloed op produksie uitoefen,” sê Van den Berg. “Die ligte reën kan egter baie hoë lugvogtoestande tot gevolg hê en plantsiektes veroorsaak, veral in die volgende maand wanneer aarvorming plaasvind en pitte begin vorm en ryp word.”

Tans is die grondwatersituasie nog op ‘n naaldpunt gebalanseer, maar die kans is goed dat droogteskade kan begin voorkom en opbrengste benadeel in veral die noordelike dele van die Swartland.

 
Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon