Archives

Landbou en munisipaliteite moet hande vat

Featured Ad


“Die landbou het munisipaliteite nodig, en munisipaliteite het die landbou nodig,” het dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, tydens ’n munisipale-landbouberaad by Goudini Spa in repliek op die beraad gesê. Die tweedaagse beraad is deur die Wes-Kaapse regering geïnisieër.

Dr. Mogale Sebotetsa, hoof van die Wes-Kaapse departement van landbou, het gesê die beraad het beslis nie ten doel om aan enige munisipaliteit voor te skryf wat hulle moet doen nie, maar om samewerking en goeie verhoudings tussen die landbou en munisipaliteite te verseker. “Ons as Wes-Kaapse regering is dáár vir al die munisipaliteite.”

Hy het gesê die Wes-Kaapse regering en departement van landbou gee om vir die veiligheid van boere en plaaswerkers, asook infrastruktuur, kabeldiefstal en beurtkrag omdat dit groei en marktoegang direk beïnvloed. Ander bronne van kommer is klimaatsverandering wat brande, vloede, droogtes en biologiese probleme veroorsaak, en water, omdat dit altyd ’n probleem in ’n waterskaars land is. Ook grondgrype is ’n bron van kommer.

Munisipaliteite en abattoirs

Dr. Marthinus Wolhuter, assistent-direkteur vir veeartsenydienste in die provinsie, het gesê munisipaliteite en abattoirs het belangrike rolle om te vervul in samewerking met mekaar.

Veeartseny- en openbare gesondheidsdienste is verantwoordelik vir die aanvaarding van abattoir-ontwerpe, asook registrasie-sertifikate en waterveiligheid, terwyl munisipaleite verantwoordelik is vir die goedkeuring van die bouplanne, okkupasie-sertifikate en watervoorsiening. Die gesondheidsdienste moet toesien dat verbranding, sterilisasie en besoedelde materiaal nie met voedsel in aanraking kom nie, en munisipaliteite is verantwoordelik vir die verwydering van afval en moet kan onderskei tussen organiese en gevaarlike afval.

Verder bestaan gemeenskaplike regulasies oor die aanhou van diere in munisipale gebiede, die ontslae raak van karkasse om waterbesoedeling te voorkom en die beheer van siektes soos brucellose en hondsdolheid. Die gesondheidsdienste moet toesien dat geen diere onwettig geslag word nie, maar in abattoirs, en munisipaliteite moet toesien dat geen ongemerkte vleis wat buite ’n abattoir geslag is, verkoop word nie. Inspeksies is belangrik.

Wolhuter het gesê sommige invloedryke maatskappye is geneig om net sekere wetlike vereistes na te kom, omdat Eerstewêreldse regulasies moeiliker is om af te dwing weens ’n gebrek aan kapasiteit. Die informele sektor systap dikwels wetlike bepalings om belasting te vermy, weens burgerlike onrus en vir basiese oorlewing.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon