Archives

La Niña kan goeie reën vir Oos-Kaap bring

Featured Ad


Foto: Theuns Botha

Die El Niño Suidelike Ossillasie (ENSO) is tans in ‘n La Niña-staat en volgens voorspellings gaan dit waarskynlik voortduur vir die res van die jaar tot in die vroeë maande van 2023.

Luidens ‘n verklaring deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens is die teenwoordigheid van ‘n La Niñastelsel se sterkste impak gewoonlik op reënval gedurende die somermaande en dus is daar ‘n groter moontlikheid dat die stelsel sy gewone uitwerking op Suid-Afrika sal hê.

Dit beteken bonormale reënval met gepaardgaande laer as normale temperature in somerreëngebiede.

Die multimodel-reënvalvoorspelling dui bonormale reënval vir die meeste dele van Suid-Afrika binne elke seisoen aan. Minimum temperature sal na verwagting landwyd bonormaal wees, maar maksimum temperature sal na verwagting ondernormaal wees.

Dit sal vir die grootste deel van die land van November tot Maart geld.

 

Water en energie

Volgens mnr. Hugh van Niekerk, streeksbestuurder van die weerdiens in die Oos-Kaap, sal die verwagte bonormale reënval damwatervlakke waarskynlik verhoog ? veral in Mpumalanga en die Vrystaat waar ‘n effense daling in damvlakke die afgelope tyd aangemeld is.

Hierdie toestande sal na verwagting groot voordele inhou vir gebiede soos KwaZulu-Natal en Gauteng, waar damvlakke stabiel gebly het. Bonormale reënvaltoestande kan ook die kans op kitsvloede verhoog in streke wat daartoe geneig is.

In die middel en laatsomer sal die vraag na verkoeling waarskynlik verhoog.

  • Winterberg en omliggende dele

Lente- en somerreënval behoort normaal tot bonormaal vir hierdie gebied te wees.

  • Gamtoos, Kouga en Nelson Mandelabaai-metro

Bonormale reënval behoort gereeld voor te kom wat damvlakke redelik konstant sal hou. Damvlakke kan selfs styg as die openbare en kommersiële sektor voortgaan met waterbesparingsmaatreëls.

  • Gariepdam (Nooitgedacht-stelsel)

Bonormale reënval word verwag en die dam behoort ver bo 80% kapasiteit te bly.

  • Klein-Karoo (Steytlerville, Jansenville en omgewing)

Bonormale reënval word verwag, hoewel die kans op re?n teen die einde van die somer kan afneem.

 

Kitsvloede

Die bonormale reënvalvoorspelling oor die meeste dele van Suid-Afrika kan die gevaar van kitsvloede in sommige streke verhoog, veral in streke met swak dreineringstelsels, waarsku Van Niekerk. Hierdie nat toestande kan watergedraagde infeksies en waterverwante beserings en ongelukke verhoog.

Die verwagte minimum somertemperature kan in die grootste deel van Suid-Afrika warmer toestande tot gevolg hê, veral saans. Die ultravioletstralingsvlakke (UV) sal na verwagting baie hoog wees, dus sal die risiko van UV-verwante gesondheidsgevare ook meer wees. Lede van die publiek word herinner om toepaslike sonbeskermingsmaatreëls toe te pas.

 

Landbousektor

Bonormale reënval word oor die meeste dele van Suid-Afrika verwag gedurende die somer. Dit sal waarskynlik ‘n gunstige impak op gewas- en veeproduksie hê.

Boere word aangeraai om grond voor te berei vir plant terwyl grond- en waterbesparing toegepas word. Behoorlike wateropname en -opberging, die vestiging van goeie dreineringstelsels en ander toepaslike boerderypraktyke moet voortdurend toegepas word.

 
Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon