Archives

KragDag-ekspo groei met rasse skrede

Featured Ad


Die Sakeliga KragDag-ekspo, wat onlangs vir die 13de keer aangebied is, se getal uitstallers het sedert verlede jaar se ekspo met 23% gegroei, van 470 ondernemings tot 580. Soortgelyk het die bywoningsyfer met 47% gegroei, van 21 000 tot 30 900 vanjaar.

Hoewel syfers ’n waardevolle telkaart is en bywoningsgetalle gewoonlik die eerste navraag ná ’n ekspo is, word die meting van sukses in die wêreld waarin ons leef te dikwels gereduseer tot getalle.

By die Sakeliga KragDag-ekspo word ondernemings, die publiek én innoverende idees bymekaar gebring.

Veel belangriker vir KragDag is die impak wat die ekspo maak om binne die konteks van die Skepper se kultuuropdrag mense te inspireer om met kreatiwiteit self verantwoordelikheid te neem vir hulle gesinne se lewens, hulle toe te rus met oplossings om ’n lewe van staatsbestandheid en selfbevrediging te leef en om deur entrepreneuriese transaksies beide verkopers van tegnologie en die kopers daarvan, beter daaraan toe te laat wees.

Bostu Boerboels het van hulle pragdiere saamgebring. Hier is Chereen Boshoff en een van die Boerboele.

Vanjaar se ekspo-leuse was: “Soms vlug, soms ingrawe … maar altyd bou!”. Dit verreken die strategiese kompleksiteit waarmee ons, sonder prysgawe van waardes, met staatshindernisse moet omgaan, terwyl ons, ongeag die omstandighede, altyd ’n bou-visie het. Soos die KragDag-leuse sê: “Doen jou eie ding!” – dit is ’n leefstyl. By die KragDag-ekspo lewe die atmosfeer hiervan en maak dit dat baie mense hierdie ekspo beskryf as een van hoop.

Die Landbou-sub-ekspo in samewerking met die Transvaalse Landbou-unie is vanjaar vir die derde maal aangebied en het ook heelwat gegroei tot meer as 100 uitstallers, met ’n arena- en skouringprogam asook ’n hoenderuitstalling.

In samewerking met Solidariteit Helpende Hand is die eerste Kou- en Kunsmark aangebied, waar ’n groot verskeidenheid handgemaakte produkte verkoop is.

Die jaarlikse Junior Entrepreneurskompetisie is vanjaar deur FergusMor, Solidariteit Helpende Hand en CoCre8 Wealth geborg, met ’n totale prysgeld van R21 000 asook besigheidsafrigting. Die Doelgerig-afdeling is deur Bobbelbrou gewen en die Voete Natmaak-afdeling is deur Cara en Hannah Grobler gewen.

Dit was ook die eerste jaar wat besoekers met ligte vliegtuie by Rhino Park kon land en met ’n pendeldiens na die ekspo-terrein vervoer kon word.

Die skaapskeer- en wolklasdemonstrasie was ’n hoogtepunt op die dag.

Hoogtepunte van die 2022 KragDag-ekspo

  • Bedrede boogskiet deur die Barebow Mounted Archers in die Inyati Arena.
  • Genesis K9 Group se misdaadbekamping honde-demonstrasies.
  • Taco Kamstra se ritte op sy gewilde 1910 high wheeler.
  • ’n Boerboelskou.
  • Die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie se streeksuitdunne, aangebied deur Veeplaas.
  • Verskeie buitelugkragtoerusting kompetisies.
  • ’n Wye verskeidenheid aktuele en insiggewende selfstandigheidsaanbiedings in die raadsaal.
Flekkie du Toit het sy staal tydens die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie gewys en as wenner van die streeksrondte weggestap.

Dagboek solank dié datum: Met 9 Augustus se openbare vakansiedag wat volgende jaar op ’n Woensdag val, word die Sakeliga KragDag-ekspo van 2023 vir die eerste keer na vier dae verleng en sal dit van 9 tot 12 Augustus 2023 plaasvind. Aansoeke vir uitstallers open binnekort. – Persverklaring, KragDag

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon