Klimaatslim veeboerdery (Deel 2): Veld wat ’n wisselvallige klimaat kan deurstaan - Agri Online

Archives

Featured Ad


Klimaatslim veeboerdery (Deel 2): Veld wat ’n wisselvallige klimaat kan deurstaan

In die eerste aflewering van ons reeks oor klimaatslim veeboerdery, het ons gesien dat slegs die reënval wat in die grond insypel en dan deur die gewenste weidingsplante getranspireer word, tot doeltreffende voerproduksie en dus effektiewe reënval bydra. Die res gaan verlore deur afloop, diepdreinering of verdamping direk vanaf die grondoppervlak.

Die reën in die reënmeter is dus nie al wat tel nie – daar is die belangrike water wat uiteindelik in die grond beland en deur goeie plante benut word om voer te produseer. Dít is die effektiewe reënval en die fokus van klimaatslim veeboere wat elke druppel laat tel.

In hierdie maand se aflewering kyk ons na die invloed van die veld se toestand op die volhoubaarheid van voerproduksie, veral in die droër dele van ons land.

Beter veld, beter weiding

Navorsing wat sedert die 1980’s in die ariede en semi-ariede streke van Suid-Afrika uitgevoer is, het bevestig dat hoe beter die veld se toestand is, hoe hoër en meer stabiel is die voerproduksie en hoe beter die gehalte van die voer. Daarby het dit ook ’n aansienlik beter droogteverdraagsaamheid en is dit uiteindelik meer winsgewendheid.

Prof Hennie Snyman, ’n voormalige hoogleraar in weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, het baanbrekernavorsing in Suid-Afrika gedoen oor die verwantskap tussen die toestand en hidrologie (waterbalans) van veld. Hy is onlangs deur die Universiteit van Stanford in Amerika as een van die wêreld se top 2% wetenskaplikes aangewys. Sy navorsing in die sentrale Vrystaat (Tabel 1), aangevul deur ander navorsing in Suid-Afrika, word onder meer in hierdie artikel aangehaal.

Tabel 1: Die hidrologiese en produksie-eienskappe van veld in verskillende toestande in die sentrale Vrystaat (1977 tot 1996), met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 530mm. (Bron: HA Snyman, 1999, 2008)

Veldtoestand en waterbalans

Tabel 1 dui aan dat, in die geval van goeie veld, sowat 3,5% van die jaarlikse reënwater tussen 1977 en 1996 weggeloop het en nie in die grond beland het nie. Anders gestel, gemiddeld 19mm van die jaarlikse gemiddelde reënval van 530mm het vanaf goeie veld weggespoel.

In die geval van gemiddelde veld het bykans dubbel soveel van die reënval per jaar weggespoel (5,6% of 30mm), en by swak veld het nagenoeg drie keer soveel reënwater weggeloop (8,7% of 46mm). Dus, hoe swakker die veld se toestand, hoe meer van die reënwater loop weg en hoe droër is die grond.

’n Mens kan hierdie data ook vanuit ’n ander hoek benader. Elke millimeter reën wat op ’n hektaar grond val, verteenwoordig 10 000ℓ water. Dus, as 46mm van die jaarlikse reënval wegloop (soos die geval by swak veld), gaan 460 000ℓ water/ha/jaar verlore wat nie vir voerproduksie beskikbaar is nie. Op ’n 1 000ha plaas gaan 46 miljoen liter van die reënwater dus jaarliks so verlore.

Die sentrale Vrystaat is relatief plat. Aflooppersentasies behoort dus aansienlik hoër te wees waar groter hellings voorkom.

Uit Tabel 1 kan gesien word dat die hoeveelheid reënwater wat die ondergrondse water aanvul (ook genoem diepdreinering), meer as dubbel soveel by goeie as gemiddelde veld is (0,5 teenoor 0,2% van die jaarlikse reënval), en vyf keer meer as by swak veld (0,1%). Dus, hoe beter die veld se toestand, hoe beter die ondergrondse wateraanvulling.

Plantbedekking en bogrondverliese

Die persentasie grond wat met plante bedek is, is sowat 17% meer by goeie as gemiddelde veld (uitgedruk as die persentasie van die grond wat deur die basale gedeeltes van die plante bedek word). Netso bedek goeie veld sowat 65% meer van die grond as die plantbedekking op swak veld.

Soos wat die veld agteruitgaan, word meer grond dus aan die atmosfeer blootgestel en behoort die verlies aan water weens verdamping (evaporasie) aansienlik hoër te wees. Dit verteenwoordig ’n verdere verlies aan water vir plantproduksie, omdat die water direk vanuit die grond verdamp en nie deur die plante vir produksie gebruik word nie.

Die jaarlikse verlies aan bogrond as gevolg van erosie beloop 0,41t/ha/jaar by goeie veld, 1,2t/ha/jaar by gemiddelde veld en ’n allemintige 3,55t/ha/jaar by swak veld. Om dit in perspektief te stel: een hektaar grond van 1mm diep en met ’n bulkdigtheid van 1,5g/cm³, weeg sowat 15 ton. Dus het die goeie veld jaarliks sowat 0,02mm grond, of 0,36mm oor die 18 jaar van die navorsing, verloor. In die geval van swak veld het sowat 0,24cm bogrond per jaar, of 4,3mm oor 18 jaar, verlore gegaan.

Die bekende Amerikaanse omroeper, Paul Harvey, wat bekend is vir sy “So God made a farmer”-toespraak in 1978, het by geleentheid gesê dat “man, despite his artistic pretensions, his sophistication, and his many accomplishments, owes his existence to a six-inch layer of topsoil and the fact that it rains”.

Saam met ’n verlies aan waardevolle bogrond, verloor swakker veld ook jaarliks groot hoeveelhede koolstof (organiese materiaal) en stikstof uit die grond. Koolstof is een van die belangrikste elemente wat die grond se waterhouvermoë bepaal.

Voerproduksie

Waterverbruiksdoeltreffendheid (WVD) is die hoeveelheid water wat ’n plant verbruik om een gram voer te produseer. Veld wat in ’n goeie toestand is, produseer bykans twee keer soveel voer per millimeter water as gemiddelde veld, en omtrent vier keer meer voer per millimeter water as swak veld, ten spyte daarvan dat ál drie veldtoestande ewe veel reën in die reënmeter meet.

Hou verder in gedagte dat swak veld se grond aansienlik droër is as dié van goeie veld. Dit het dus ’n dubbele agterstand.

Die proteïeninhoud van swak veld is laer as dié van goeie veld. Goeie veld produseer onderskeidelik twee keer en vier keer meer ruproteïen per hektaar as veld in ’n gemiddelde en swak toestand.

Die jaar-tot-jaar variasie in veldproduksie verskil ook aansienlik, met die goeie veld se swakste produksie nie veel laer as die swak veld se beste produksie nie. Hoe droër dit is, hoe groter is die verskil in voerproduksie tussen goeie en swak veld.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat meer gereelde voertekorte by swak veld ervaar word as by goeie veld. Die navorsing van die Vrystaatse weidingspesialis, dr Mias van der Westhuizen, bevestig dit (sien Tabel 2). Die voorkoms van skyndroogtes neem dus toe namate die veldtoestand verswak. ’n Skyndroogte is die gevolg van ’n tekort aan weiding weens die veld se swak toestand, en nie as gevolg van ‘n

Tabel 2: Die waarskynlikheid van voertekorte by verskillende veldtoestande (Bron: M van der Westhuizen, 2020)

 *Inherente klimatologiese droogterisiko.

Beter veld, groter wins

Die kersie op die koek is dat goeie veld meer wins per hektaar oplewer as veld in ’n swakker toestand. In ’n studie in 1987, het weiveldweteskaplikes A Moore en A Odendaal die winsgewendheid van veld in verskillende toestande met mekaar vergelyk. Vir elke R100 wins per hektaar op goeie veld, was die wins van gemiddelde en swak veld onderskeidelik R64/ha en R18/ha.

Hoe beter die toestand van die veld dus, hoe hoër en meer stabiel sal die voerproduksie daarop wees en hoe beter sal die gehalte van die voer wees, wat uiteindelik tot groter winsgewendheid lei. Daarby sal die veld se droogteverdraagsaamheid en droogte-uithouvermoë ook hoër wees, wat produksie daarop meer volhoubaar maak.

In kort, goeie veld is die beste versekering teen die temperamentele aard van ’n wisselvallige klimaat. – dr Louis du Pisani, onafhanklike landboukonsultant

Vir meer inligting en bronverwysings, kontak

dr Louis du Pisani by 082 773 9778 of Ldupisani@gmail.com.

Comments

mood_bad
  • No comments yet.
  • Add a comment
    Right Menu Icon