Archives

Klimaatplanne: ‘Ons is in ’n wedloop teen tyd’

Featured Ad


Ter ullistrasie. Foto: Koot Marais

‘n Nuwe verslag van die Verenigde Nasies (VN) oor klimaatsverandering dui daarop dat hoewel globale kweekhuisgasvrystellings van sekere lande afgeneem het, daar steeds onvoldoende pogings is om die globale temperatuurstyging binne die volgende eeu tot 1,5 °C te beperk.

“Die afwaartse neiging in lugbesoedeling wat teen 2030 verwag word, wys dat lande wel vanjaar ‘n mate van vordering gemaak het,” het mnr. Simon Stiell, uitvoerende sekretaris van die VN se afdeling vir klimaatsverandering, gesê.

“Maar die wetenskap is duidelik en so ook ons klimaatdoelwitte. Ons is steeds nêrens naby die skaal en tempo van vermindering in vrystellings wat nodig is om ons op koers te hou na ‘n 1,5 °Cwêreld nie. Om hierdie doelwit te bereik, moet nasionale regerings hul klimaataksieplanne nou versterk en dit in die volgende agt jaar toepas.”

 

Die VN se interregeringspaneel oor klimaatsverandering se 2018-verslag het aangedui dat CO2vrystellings teen 2030 met 45% verminder moet word, vergeleke met die 2010-vlakke. Die jongste getalle wat vroeër vanjaar uitgereik is, gebruik 2019 as ‘n basislyn. Daarvolgens moet kweekhuisgasvrystellings teen 2030 met 43% verminder.

Stiell sê dit is van deurslaggewende belang om die doelwit te bereik en temperatuurstygings tot 1,5 °C te beperk om die ergste impak van klimaatsverandering, wat ongereelde en ernstige droogtes, hittegolwe en reënval insluit, te verminder.

“Verlede jaar op die VN se klimaatsveranderingskonferensie in Glasgow het alle lande – die 193 partye wat deel vorm van die Parys-ooreenkoms – ingestem om hul klimaatplanne te versterk,” het Stiell gesê.

“Die feit dat slegs 24 nuwe of bygewerkte klimaatplanne sedert die COP26-beraad ingedien is, is teleurstellend. Regeringsbesluite en -optrede moet die vlak van dringendheid weerspieël, die erns van die bedreigings wat ons in die gesig staar besef, en die tekort aan tyd wat ons oor het om die verwoestende gevolge van klimaatsverandering te vermy, as ernstig beskou.”

Die verslag het aangedui dat hierdie lande se kweekhuisgasvrystellings in 2050 sowat 68% laer kan wees as in 2019, mits al die langtermynstrategieë betyds ten volle deurgevoer word.

Mnr. Sameh Shoukry, die Egiptiese minister van buitelandse sake en aangewese COP27president, het gesê die verslag van die VN oor klimaatsverandering is ‘n tydige herinnering vir almal. Die verhoging van ambisie en dringende toepassing is onontbeerlik om die klimaatkrisis aan te pak.

 

“Dit sluit in die versnelde vermindering en uitskakeling van vrystellings en ‘n wyer omvang van ekonomiese sektore om ons te beskerm teen ernstige en nadelige klimaatsverwante verliese en skade.

“Die verslag wys dat die wêreld nie op koers is om die Parys-klimaatdoelwit te bereik. Dit is ‘n ontnugterende oomblik en ons is in ‘n wedloop teen tyd.

Verskeie lande van wie verwag word om meer te doen, doen nog lank nie genoeg nie en die gevolge daarvan raak lewens en lewensbestaan reg oor die wêreld.”

  • Die VN se volgende klimaatsveranderingskonferensie (COP27) vind vanjaar van 6 tot 18 November in Sharm el-Sheikh, Egipte, plaas.
Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon