Met die La Niña-stelsel wat steeds sterk is vir hierdie tyd van die jaar, bly die risiko van neerslae voor en tydens strooptyd redelik groot tot ongeveer die begin van Julie, meen Johan van den Berg, ‘n onafhanklike landbouweerkundige.
Dié voorspelling volg nadat verskeie plekke verlede week 50 mm of meer reën aangeteken het. Sommige plekke het self 100 mm of meer gehad. Die swaarste neerslae het oor die sentrale, maar veral die oostelike dele van die land voorgekom. Uit ‘n landbou-oogpunt is die baie reën ‘n groot bekommernis vir die oes van grane.
Volgens Van den Berg het produsente noord en oos van Koppies sowat 100 mm reën aangemeld, en omdat die produsente besig is om sojabone te stroop kan dit met die nat landerye tot twee weke duur voordat hulle weer in die landerye kan kom om te stroop. Dit kan verliese veroorsaak omdat die peule gaan oopspring as dit begin droër word. Gehalte kan ook benadeel word.
Op die vraag of die swaar neerslae ‘n gevolg van klimaatsverandering of La Niña is, antwoord Van den Berg dat die groot probleem vanjaar die vorming is van sterk laagdrukstelsels wat vinning afsnylaagdrukstelsels vorm en besonder baie reën veroorsaak. Die stelsels vorm baie vinnig sonder waarskuwing.
Die voorspelbaarheid is ook redelik swak en voorspellings kan dikwels slegs enkele ure voor die gebeurtenis met meer akkuraatheid gedoen word. Meer intense laagdrukstelsels met gevolglik baie reën is tipies van La Niña -verskynsels. Die bydrae van klimaatsverandering moet ook bygetel word. Die Indiese Oseaan oefen nie ‘n groot invloed uit nie, omdat temperature daar redelik neutraal is.
Oor die swaar reën in April en Mei, sê Van den Berg klimaatsverandering kon ‘n bydrae hiertoe gelewer het, maar dis meestal aangedryf deur ‘n sterk La Niña-verskynsel wat lank aanhou in die laatsomer en herfs, soos wat die geval in 2011 was, toe reën baie laat in die seisoen voorgekom het.
Die normale reënvalpatroon gedurende sterk La Niña -verskynsels is dat reën in die vroeë somer – Oktober en November, oor KwaZulu-Natal en Mpumalanga begin en dan geleidelik uitbrei na die weste. Droër toestande kom dan van Januarie tot Maart oor die oostelike dele voor, maar nat toestande oor die sentrale tot westelike dele. Indien toestande gunstig bly vir reën, begin die siklus hom herhaal en word dit droër in die weste en begin dit weer reën in die oostelike dele vanaf Maart tot Junie.
Van den Berg sê as die La Niña -verskynsel vroeër begin verswak soos in 2021 – toe dit reeds teen einde Februarie na ‘n neutrale patroon oorgegaan het – is die siklus onderbreek. Minder reën het toe voorgekom in veral April en Mei oor die grootste deel van die land.
Volgens Van den Berg dui weermodelle tans aan dat verdere reën gedurende Junie nog oor die somerreëngebied kan voorkom.
Met die La Niña-stelsel wat tans sterk is vir hierdie tyd van die jaar, bly die risiko van reen voor en tydens strooptyd redelik groot tot ongeveer die begin van Julie. Die kans op reen oor die somerreëngebied vir die oostelike dele is skraal vanaf Julie tot einde September en tot November en/of Desember oor die sentrale tot westelike dele.
Van den Berg sê daar is egter steeds ‘n risiko van swaar reën oor die oostelike en suidoostelike dele van die land, insluitend die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal in die komende maande.
Die tydperk tot Junie lyk na ‘n hoërisikotydperk vir die skeer van vee vanweë die kans op verdere reën met baie koue toestande. Hy reken dit sal waarskynlik beter wees om nader aan Augustus en September te laat skeer wanneer dit steeds koud gaan wees, maar moontlik nie so nat nie.
Hy waarsku dat daar in gedagte gehou moet word dat die kans op sneeu vanjaar baie groot is, veral in Junie en Julie.
*Die artikel het oorspronklik in Landbou.com verskyn.
Buy, Sell & Trade Agricultural & Heavy Equipment
Our Facebook Groups
© 2021 All Rights Reserved. AgriOnline Pty Ltd View Our Policies HERE