Archives

Geen vreugde vir dieselverbruikers

Featured Ad


Die prys van diesel met 0,05% swael en diesel met 0,005% swael styg môre met onderskeidelik 10c per liter en 15c per liter, terwyl die prys vir 95 oktaan- en 93 oktaan-petrol met onderskeidelik R1,02 per liter en 89c per liter daal.

 

Luidens ‘n verklaring van die departement van minerale hulpbronne en energie het die prys van ruolie tydens die oorsigtydperk gedaal van $94 per vat tot $89,79 per vat weens kleiner vraag uit China en die vrystelling van ruolievoorrade deur lidlande van die Internasionale Energieagentskap (IEA) en Amerika.

Verdere faktore wat hiertoe bygedra het, is Saoedi-Arabië se besluit om oliepryse te verminder om met Rusland te kan meeding en die daling van oliepryse uit vrees vir ‘n globale resessie wat die vraag na verfynde produkte kan beïnvloed.

 

Die gemiddelde internasionale prys van petroleumprodukte het ook gedurende die oorsigtyperk gedaal. Groter vraag na en kleiner voorrade van diesel het egter daartoe gelei dat dieselpryse gestyg het, terwyl petrolpryse gedaal het.

Petrolvoorrade is egter ook onder effense druk aangesien onderhoud tans op raffinaderye in die Noordelike Halfrond gedoen word. Daarom is die daling in petrolpryse klein vergeleke met vorige dalings.

 

Volgens die departement het die rand-dollar-wisselkoers gedurende die oorsigtydperk van R16,70 tot R17,55 verswak – die rand se laagste vlak teenoor die dollar sedert Mei 2020.

Dié situasie is verder vererger deur die Amerikaanse Federale Reserwebank se onlangse aankondiging dat rentekoerse met 75 basispunte styg te midde van kommer oor ‘n moontlike resessie. Dit het gelei tot groter vraag na en die versterking van die dollar.

Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê die nuwe dieselpryse is beslis nie goeie nuus vir die landbousektor nie. Die hoër dieselpryse het ‘n onmiddellike effek op insetkoste, asook die vervoerkoste van insette soos kunsmis, saad en chemikalieë. Volgens hom kan ‘n styging in voedselinflasie in die komende maande verwag word.

Hy sê dit is moeilik om op hierdie stadium te voorspel wat in die komende maande met dieselpryse sal gebeur. “Dit lyk of die olieprys redelik gestabiliseer het. As die olieprys bly waar hy is en die wisselkoers, wat die afgelope tyd baie wisselvallig was, versterk, behoort daar in November beter nuus vir dieselverbruikers wees. Dit sal egter baie afhang van wat op vandeesweek se vergadering van die organisasie van petroleum-uitvoerlande (Opul) gebeur.”

Volgens Maree is daar sprake dat Opul beoog om olieproduksie in te kort om pryse op die huidige vlakke stabiel te hou. “As Opul produksie verminder, kan dit daartoe lei dat die ruolieprys op kort termyn toeneem.”

 
Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon