Archives

Eierbedryf bloei, sê Quantum

Featured Ad


Landbou.com – Eierbedryf bloei, sê Quantum | Landbou

 

Suid-Afrika se grootste eierprodusent, wat eiers onder die handelsmerk Nulaid bemark, se wesensverdienste per aandeel vir die jaar tot einde September het met 73% geval.

Mnr. Hennie Lourens, uitvoerende hoof, het met die bekendmaking van Quantum se resultate gesê dit was uit ’n finansiële oogpunt ’n ongewoon slegte boekjaar, maar dat die hele eierbedryf baie swaar kry.

Rekordhoë vlakke van grondstowwe vir voer het die hele maatskappy en ook die betrokke bedrywe geraak. Volgens Quantum se berekeninge het dit hom net meer as R60 miljoen gekos omdat hy nie hoë voerpryse deur ’n voldoende styging in finale produkpryse soos eiers en lêgereedhenne kon verhaal nie.

Quantum se koste van produksie van eiers, dagoud-lêhenkuikens en lêgereedhenne is daardeur benadeel.

Die maatskappy het ook ’n groot terugslag beleef toe hoogs aansteeklike voëlgriep in Februarie op sy Lemoenkloof-plaas uitgebreek het. Sowat 400 000 lêhenne, in ’n hoogs produktiewe lewenstadium, moes van kant gemaak word. Dit het verliese van sowat R27 miljoen meegebring.

Daar was ook voëlgriepuitbrekings by van sy voerkliënte, wat sy voerverkope geraak het.

Voerkoste

Mnr. André Muller, finansiële hoof, het gesê eierpryse het in die boekjaar met 8,4% gestyg, maar voerpryse met 17,8%. Dit plaas die hele Suid-Afrikaanse eierbedryf onder erge druk.

Quantum het daarom minder bestellings ontvang vir dagoud-lêhenkuikens en lêgereedhenne.

Lourens het gesê dit het die afgelope drie jaar, weens die moeilike omstandighede in die bedryf, begin gebeur dat kliënte wat lêgereedlêhenne bestel het vir lewering op 18 weke, op week 15 of week 16 dié bestellings gekanselleer het, of gesê het hulle sal die henne eers later kan neem.

Quantum moes die henne bly voer en ander heenkome vir hulle vind, soos by Nulaid.

Hy verwag nie dat pryse van grondstowwe binnekort gaan daal nie, maar die kontrakpryse vir mielies vir lewering in Julie 2023 is laer as in Maart 2023, wat op ’n verwagte daling middel aanstaande jaar kan dui.

Beurtkrag

Quantum se voervervaardiging is hard deur beurtkrag getref en het die maatskappy sowat R19 miljoen gekos.

Veral die Malmesbury-voermeule, wat gewoonlik ná aan sy volle kapasiteit gebruik word, het gesukkel om voor te bly om kliënte te voorsien.

Quantum se direksie het reeds goedgekeur dat R15 miljoen in die huidige boekjaar aan kragopwekkers daar bestee word. Dit behoort voor die einde van die huidige kalenderjaar gereed te wees.

In die 2022-boekjaar het die maatskappy se voerafdeling, Nova Voere, in sekere hoëbeurtkragfases tydelik slegs voermeel vervaardig en nie voerkorrels nie, om seker te maak dat hy aan al sy kliënte voer kon verskaf en omdat voermeel vinniger vervaardig kan word.

Quantum produseer ook lewende braaihoenders vir slagplase en moes hulle toe tydelike voermeel voer, wat hul groei erg benadeel het.

Vooruitsigte

Lourens het gesê Quantum het sy bedrywighede vir eiers en lêgereedhenne hersien. Albei is afgeskaal en op sekere plase is bedrywighede opgeskort.

Die maatskappy het sy verpakkingsaanleg in Oos-Londen gesluit omdat hy al ’n paar jaar lank ervaar dat hy met sy kliënte daar nie produkpryse kan verhoog om te vergoed vir sy eie stygende voerkoste nie.

Sowat 90 werknemers moes weens afskalings en die opskorting van bedrywighede afgelê word. Van die ander werknemers was bereid om elders in die maatskappy te werk.

Lourens het gesê in die algemeen kan eierpryse nie net ondeurdag verhoog word tot by ’n punt waar verbruikers dit nie meer kan bekostig nie.

Die eierbedryf is wêreldwyd baie siklies. Die enigste manier hoe eierpryse styg, is as die aanbod daal.

Hy het gesê syfers oor huidige verminderde plasings van dagoud-lêhenkuikens en lêgereedhenne dui daarop dat die hoë voerkoste aanstaande jaar tot ’n laer aanbod van eiers kan lei.

“In die eierbedryf moet ’n mens op jou voete kan dink. Wanneer die geleenthede daar is, moet jy gereed wees om dit te benut.”

Quantum is besig om sy broei-aanleg by Hartbeespoortdam uit te brei en hoop om dit middel aanstaande jaar in gebruik te neem.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon