Archives

Dié komitee moet misdaad op plase bekyk

Featured Ad


ʼn Nasionale werkkomitee bestaande uit 15 lede is Dinsdag in Parys in die Vrystaat gestig, met die doel om aandag te gee aan misdaad in landelike gebiede. Die komitee is tydens ʼn beraad oor landelike veiligheid die afgelope paar dae gestig.

Belanghebbendes van regoor die landbousektor, insluitend boere, plaaswerkers en vakbonde, het die beraad bygewoon met die doel om vordering wat gemaak is met die nasionale landelike veiligheidstrategie te bekyk.

Dié strategie poog om aandag te gee aan uitdagings ten opsigte van misdaad in landelike gebiede en op plase en is in 2019 bekendgestel. Die strategie is daarop gemik om vennootskappe tussen die gemeenskap en die polisie te bevorder deur die werk van die prioriteitskomitees vir landelike veiligheid op nasionale, provinsiale en distriksvlak te verbeter. Dié plan het egter nog min sukses gehad om misdade soos veediefstal, plaasaanvalle en -moorde en arbeidsgeskille met plaaswerkers te bekamp.

Volgens kol. Athlenda Mathe, woordvoerder van die polisie, bestaan die nasionale werkkomitee uit verskeie belanghebbendes in die landbousektor en sal die komitee kwartaalliks ontmoet om te kyk tot watter mate aandag gegee is aan genoemde uitdagings. Genl. Bheki Cele, minister van polisie, het die komitee sewe dae gegee om vorendag te kom met ʼn aksieplan om misdaad in landelike gebiede te bekamp. Dié plan sal in die vorm van ʼn memorandum aan die kabinet voorgelê word.

“Dit is belangrik om ʼn veilige werkomgewing vir boere te skep om te verseker daar is geen bedreiging vir voedselsekerheid in die land nie,” het Cele gesê.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het gesê dit is nodig vir die polisie om met alle belanghebbendes in landelike gemeenskappe saam te werk ten einde misdaad hier te bekamp. “Ons as die polisie wil effektiewe kapasiteit en bevoegdheid in landelike gebiede skep, ons dienslewering in landelike gebiede verbeter en polisiehulpbronne en infrastruktuur in hierdie gemeenskappe versterk.”’

 

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon