Voorkoming is beter as genesing, veral as dit by diarree in kalwers kom. Kalfdiarree is wêreldwyd ’n netelige probleem wat ekonomiese verliese in die hand werk en die welsyn van diere baie nadelig kan beïnvloed. Verskillende faktore laat dié probleem opvlam, wat aansteeklik, nie-aansteeklik of ’n kombinasie van die twee kan wees. Verskeie patogene wat infeksie veroorsaak is ook al geïdentifiseer en sluit virusse, bakterieë en protosoë in.
Dr Chantelle Erwee, tegniese bestuurder: herkouers by Zoetis SA, sê oor die algemeen is die rota- en koronavirusse wat by beeste voorkom, baie lastig. Dié virusse is bekende oorsake van diarree by kalwers wêreldwyd. Die voorkoms van spesifieke patogene kan egter beïnvloed word deur die omgewing asook waar die plaas geleë is.
Dié twee virusse se samestelling, sowel as die kliniese uitwerking wat hulle op die kalwers het, is baie soortgelyk. Altwee virusse het ’n kort inkubasietydperk van ongeveer 24 uur in die geval van die rotavirus, en 48 uur in die geval van die koronavirus. Beide besmet kalwers hoofsaaklik totdat hulle drie weke oud is.
Die piek van die besmetting is gewoonlik wanneer kalwers sowat ’n week oud is, hoewel die virusse ook al by ouer kalwers geïdentifiseer is. Die rotavirus kan ’n betreklik wye pH-spektrum en hoë temperature weerstaan.
Dit is egter die protosoön Cryptosporidium wat die afgelope paar jaar die grootste probleem in Suid-Afrika geraak het. Dit word as die vernaamste patogeen wat diarree by kalwers veroorsaak, beskou.
Cryptosporidium parvum word gesien as ’n primêre patogeen wat die kalf dan aan sekondêre infeksie blootstel. Kalwers van so jonk as drie tot vyf dae oud word deur die patogeen besmet en die infeksie kan van ’n paar dae tot ’n paar weke duur. Die protosoön kan mense ook besmet, wat tot soönose kan lei.
Chantelle sê ’n mens kan kwalik oor kriptosporidiose praat sonder om E. coli ook te noem. Dit hou gewoonlik ’n risiko in totdat die kalwers sowat vyf dae oud is. Teen daardie tyd begin die pH in die kalf se melkpens daal van sowat 6 of 7 tot 2, wat die patogeen dan laat vrek.
Ander nie-oordraagbare faktore soos voeding, bestuur, immuniteit, spanning en infeksiedruk kan ook betrokke wees by die voorkoms van diarree in kalwers. Dit is belangrik dat dragtige koeie goed versorg moet word. As wanvoeding by dié diere voorkom, kan dit die kalf se groei en weerstandbiedendheid teen siektes nadelig beïnvloed.
Biesmelkbestuur is uiters belangrik vir kalwers om voldoende weerstand teen diarree te kan bied. Wanneer kalwers moeilik gebore word, kan hul koppe en tonge geswel wees, en sukkel hulle om genoeg biesmelk in die eerste ses uur te suip.
Dit is dikwels ook verse wat moeilik kalf en wat swakker gehalte biesmelk produseer, se kalwers wat kwesbaar is. As sulke kalwers diarree ontwikkel, kan dit vinnig versprei en ander kalwers besmet deur aangetaste diere se kwyl of mis. Verse moet daarom met groot sorg bestuur word.
Spanning by diere kan ook hul weerstandbiedendheid in die wiele ry. Ongure weerstoestande, die vervoer van pasgebore kalwers en ander spanningsvolle gebeurtenisse kan kalwers se spysvertering ontwrig en hul weerstand ondermyn deur immuniteit te onderdruk.
Hoe meer patogene in die omgewing teenwoordig is, hoe makliker kan kalwers met organismes wat diarree veroorsaak besmet word. Dit is weliswaar moeilik om te bestuur, maar produsente moet poog om die vermenging en samedromming van kalwers van verskillende ouderdomme te verhoed. Kalwers wat wel siek raak, behoort na hospitaalkampies verskuif te word om die algemene omgewing skoon te hou.
Nog ’n manier om diarree by kalwers die hoof te bied, is om dragtige koeie ’n paar weke voordat hulle kalf, in te ent met ’n entstof wat veilig is vir gebruik tydens dragtigheid. Daarmee word gepoog om die gehalte van die biesmelk te verbeter, sodat teenliggaampies teen die patogene aan die kalf beskikbaar is deur die biesmelk, sê Chantelle.
Hoewel diarree baie vinnig kan ontwikkel en siek kalwers so gou as moontlik behandel moet word, is dit baie belangrik om ’n korrekte diagnose van die oorsaak te maak, sodat ’n doeltreffende bestuurstrategie vir die behandeling van die uitbreking ingestel kan word. Vir sekere patogene is daar veeartstoetse beskikbaar om die mis op die plaas te toets en binne ongeveer tien minute die sondebok te identifiseer.
Ontledings in ’n laboratorium kan egter ook nodig wees om saam met die geskiedenis en bestuur van die plaas en kudde, ’n langtermynoplossing te vind. Voorkoming bly egter altyd beter as genesing. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Chantelle Erwee by 060 960 2074 of chantelle.erwee@zoetis.com.
Buy, Sell & Trade Agricultural & Heavy Equipment
Our Facebook Groups
© 2021 All Rights Reserved. AgriOnline Pty Ltd View Our Policies HERE