Archives

Damme eintlik ‘keerwalle vir jare se vloede’

Featured Ad


Ter illustrasie. Foto: Johan Norval

Suid-Afrika se damme bevat miljarde tonne water en stuit as gevolg daarvan eintlik jare, in sommige gevalle dekades, se vloede, sê prof. Anthony Turton van die sentrum vir omgewingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat. Daarom is dit só katastrofies as ‘n damwal breek.

Turton het gedurende die naweek in ‘n onderhoud met die SAUK gesê ‘n agterstand in die verwerking van veiligheidsverslae sedert 2017 weens ‘n tekort aan kapasiteit by die departement van water en sanitasie is grotendeels die oorsaak daarvan dat die meeste van die land se damme nie aan veiligheidsvereistes voldoen nie.

Die departement van water en sanitasie het onlangs in die parlement onthul dat slegs twee van die 20 grootste damme wat deur die departement besit word, aan veiligheidsvereistes voldoen. Dit vorm volgens Turton deel van die algemene stand van sake wat die agteruitgang van SuidAfrika se nasionale infrastruktuur betref.

 

Turton het gesê damme is inherent gevaarlik aangesien hulle miljarde tonne water bevat. “Vloede is ernstig en gevaarlik. Damme hou jare of selfs dekades se water terug. As ‘n damwal breek, is dit katastrofies. Daarom moet daar hoë vlakke van veiligheid rondom damme wees.

“Suid-Afrika is een van die 20 lande in die wêreld met die grootste damme. Hoe groter die dam, hoe groter die risiko. Daarom móét daar aan veiligheidsvereistes voldoen word.”

Hy het vertel hoe ‘n besoek aan die Gariepdam se dammuur onderstreep het waarom onderhoud aan damme noodsaaklik is – maar tans nie voldoende gedoen word nie. “Dit was ‘n vreesaanjaende ervaring. Die hele dammuur het geskud en gesis en gedreun.

“Die Laingsburg-vloed van 1988 is deur ‘n enkele reënbui veroorsaak. Verbeel jou wat sal gebeur as ‘n vloed gelykstaande aan verskeie jare se reënval voorkom. Dit kom met soveel krag by die rivier af dat dit allerhande dinge saamsleep – bome, karre en klippe. Dit word soos ‘n stormram en niks kan in sy pad staan nie.”

Tekort aan vaardighede 'n nasionale kwessie

Turnton het gesê die land se damme is gebou deur ingenieurs wat weet hoe om hulle te onderhou. Die meeste van dié ingenieurs is nou in die private sektor en word nie meer by die onderhoud van die damme betrek nie.

Kontrakte vir die onderhoud van damme word volgens Turton nou eerder met byvoorbeeld Chinese maatskappye gesluit. “Dit omseil die plaaslike vaardigheidsbasis en veroorsaak uiteindelik dat dit verswak word. Suid-Afrika beskik tans oor slegs 20% van die vaardighede wat dit in die 1980’s gehad het. Die res is weg.”

Daarom werk die sentrum van omgewingsbestuur saam met die Suid-Afrikaanse besigheidskamer om die vaardighede wat wel nog beskikbaar is, te konsolideer.

“Ons beskou dit as ‘n nasionale bate. Hierdie is mense met tegniese vaardighede, maar hulle vorm deel van maatskappye. As die maatskappye nie kontrakte ontvang nie, kan hulle nie volhoubaar wees nie en dan migreer hulle na waar daar vir hulle werk is. Dit is dan wat ‘n mens die stadige uitvloei van professionele mense, tot die land se nadeel, beleef. Dít is ‘n nasionale kwessie.”

Thorton het vandag aan Landbou.com gesê dat net omdat ‘n dam nie aan veiligheidsvereistes voldoen nie, dit nie beteken dat daardie dam ‘n gevaarlike dam is nie.

 

'So veilig soos ons kan wees'

Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, het vandag tydens ‘n onderhoud met Newzroom Afrika gesê die departement se voorlegging aan die parlement het gekonsentreer op wat sou gebeur as iets by 286 van die 323 damme wat die departement bestuur, sou skeefloop. Daar is spesifiek na die damme gekyk as gevolg van hul grootte en risiko om skade te rig.

Veiligheidsverslae oor damme moet volgens hom elke vyf jaar by die departement van openbare werke se kantoor van damveiligheid ingehandig word. Volgens hom kan die direkteur-generaal besluit om dié periode tot 10 jaar te verleng. Die verslae word gebruik om ‘n similasie te doen van wat kan gebeur as ‘n dam se wal sou breek.

“Die rede waarom daar nie aan veiligheidsvereistes voldoen word nie, het te doen met die aanstelling van ‘n goedgekeurde diensverskaffer wat ‘n gebrek aan kapasiteit tot gevolg het. Die nodige diensverskaffers moet aangestel word om te verseker dat veiligheidsverslae betyds by die kantoor vir damveiligheid ingehandig word.”

Ratau het gesê die departement werk daagliks om die veiligheid van sy damme te verseker. Daar word ook met die bestuur van infrastruktuur saamgewerk om die nodige gebeurlikheidsplanne op te stel. “Ons is so veilig soos ons kan wees.”

 

Reën bring opgewondenheid, maar ook kommer

Luidens ‘n verklaring deur die departement het die wydverspreide en volgehoue reënval oor die grootste gedeelte van die land, veral die binneland, tot die hoë toevloei van water in belangrike damme in ‘n kort tydperk gelei. Aangesien daar verwag word dat die reënval hierdie week sal voortduur, sal die departement die land se damme fyner monitor.

Volgens die departement is die Vaaldam reeds 100,49% vol en styg sy vlak steeds vinnig. Al die dam se sluise is oop. Vrylatings van die dam se water sal oor die volgende paar dae volgens die beskikbare data van die Bo-Vaal-opvangsgebied aangepas word.

Die Vaal-Oranje-stelsel ontvang volgens die departement ook tans ‘n groot toevloei. Dit het ‘n impak op die Vaal- en die Bloemhofdam. As gevolg daarvan sal water vandag vanuit die Bloemhofdam vrygelaat word.

Hartbeespoortdam in die Noordwes ontvang tans ook ‘n groot toevloei en die jaarlikse vrystelling van water vanaf die Phongolodam in KwaZulu-Natal het verlede week Vrydag begin.

Die departement doen ‘n beroep op gemeenskappe wat naby damme en riviere woon, om versigtig te wees.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon