Archives

China gee groen lig vir wol van SA

Featured Ad


 

Die ministers van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling Thoko Didiza en handel en nywerheid Ebrahim Patel het ʼn besluit deur die Volksrepubliek China verwelkom om die verbod op wolprodukte van Suid-Afrika weens die uitbreking van bek-en-klouseer op te hef.

Suid-Afrika vervaardig meer as 42 miljoen kilogram wol van 8 000 kommersiële skaapboere. Bykomend tot dié kommersiële boere is daar ook 40 000 gemeenskaplike kleinhoewe-boere wat 14% tot die totale woluitvoere bydra. “Hierdie boere sou onherstelbare verliese van R730 miljoen gely het as die beperkings voortgeduur het,” het die ministers in ʼn verklaring gesê.

Die waarde van die woluitvoerebedryf beloop ongeveer R1 miljard. “Die verbod op wol, wat verlede seisoen geoes is, sou ʼn onkenbare knou gehad het omdat vanjaar se oes reeds in volle swang is. Dit beteken dat die bedryf twee seisoene se verliese sou gely het.”

Didiza het gesê die besluit deur die Algemene Administrasie van Doeane van China (GACC) en die ministerie van landbou en landelike sake in China om die verbod op wol en ander diervelprodukte van Suid-Afrika op te hef, word verwelkom.

“Gesprekke met die Volksrepubliek China was baie positief en die samewerking deur verskillende dele van die Suid-Afrikaanse regering het ʼn groot bydrae gelewer,” het Patel bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig dat China in April-maand die invoere van wol uit Suid-Afrika gestaak het omdat dié Oosterse land kwansuis bang is dat dit daartoe gaan lei dat bek-en-klouseer na China sal versprei. Volgens Agri SA en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) was regeringsoptrede die enigste uitweg om sake om te keer, want 70% tot 80% móét na China gaan.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon