Archives

Boere moenie hoop verloor, sê TLU SA se Henry Geldenhuys

Featured Ad


Moed opgee of hoop verloor mag nie deel van die Suid-Afrikaanse boer se DNS wees nie.

Dít is duidelik na net ʼn paar oomblikke in gesprek met Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

“Ondanks al die uitdagings wat boere op ʼn daaglikse basis in die gesig staar, doen ek ʼn beroep op elke boer in die land om nie moed op te gee nie. Boere moet vasbyt en sterk staan. Ek besef dit is moeilik, maar ons moet positief bly en ons beste doen om ons te rat om elke uitdaging die hoof te bied,” sê hy.

Volgens Geldenhuys kan dit vir die land se boere voel of die “aanvalle” uit alle oorde kom, siende dat landbou se uitdagings uiteenlopende aspekte soos regeringsbeleid, klimaat en veiligheid insluit.

“Dit is nodig om te onthou dat jy nie alleen hierin staan nie. God is met ons. Geloof is deurslaggewend en dit is waaraan elkeen van ons kan vashou om vas te byt in dié moeilike tye.”

Wanneer jy na Geldenhuys luister as hy praat oor geloof, hoop en vertroue in God, kan mens nie anders as om aan Romeine 5: 3-5 te dink nie.

“… maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukkinge lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop en die hoop beskaam nie …”

Boere moenie moed verloor nie, sê Geldenhuys. “My grootste behoefte vir ons land en sy boere is om ten alle tye van die volgende bewus te wees: God is in beheer. Hy weet van ons uitdagings en ons moet nie ophou tot Hom bid vir leiding nie. Die Here sal ons – ongeag van alles wat ons moet oorkom – nie verlaat nie.”

Geldenhuys is by georganiseerde landbou betrokke sedert hy begin boer het, waar hy in die Sheepmoor-omgewing sy stempel begin afdruk het. Spoedig het hy op distrikslandbou-unie-vlak (DLU), sowel as streekvlak ʼn sterk leiersrol begin speel. Sedert 2008 het hy as streeksvoorsitter van TLU SA se Oos-streek gedien.

Dit is veral sy bydrae tot veiligheid wat hy deurlopend vir sy medeboere reg oor Suid-Afrika lewer, wat iets besonders is. In November 2001 is TLU SA se skietvereniging gestig en hy het daar ook vir jare as voorsitter gedien.

Geldenhuys word in 2008 as voorsitter van die nasionale veiligheidskomitee aangewys. In 2016 verkry hy ʼn oorkonde op nasionale vlak as blyk van waardering en erkenning vir die onbaatsugtige en toegewyde diens wat hy in belang van Suid-Afrika se boere gelewer het. Dit het die hantering van veiligheidsaangeleenthede en die verbetering van landelike veiligheid ingesluit. Gedurende sy termyn het hy vir elke potensiële bedreiging riglyne opgestel oor hoe die situasie op die regte wyse, binne die wet hanteer moet word.

In 2011 is Geldenhuys as adjunkpresident van TLU SA verkies en sedert September 2020 vervul hy die rol as president van TLU SA.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon