Archives

Bek-en-klouseer-uitbreking: Kragdag kry biosekerheid gereed

Featured Ad


Enkele dae voor die aanvang van Kragdag het bek-en-klouseer in dié gebied, oos van Pretoria, uitgebreek. Vanjaar het Kragdag se landbouskou groot belangstelling onder uitstallers gewek, asook onder verskeie telersgenootskappe wat hul diere wil uitstal.

Die staatsveearts in Gauteng wat die uitbreking hanteer, dr. Farah Abdool-Khader, het vir Maroela Media gesê dat die uitbreking in ʼn groot kommersiële voerkraal was en dat hulle nou al die diere in die besmette sone, in ʼn 3 km-radius, kwarantyn. Hierdie diere gaan elke week aan roetinemonitering onderwerp word en dit sluit ʼn opname van die diere, gesondheidsondersoeke en die trek van monsters in.

In ʼn radius van 4 km tot 10 km gaan die plase elke twee weke besoek word. Geen lewende gesplete hoefdiere word toegelaat om uit die 10 km-toesigsone te beweeg vir enige ander doel as om geslag te word nie.

Sy sê hulle weet nog nie hoe die oordrag plaasgevind het nie, maar hulle stel nou ernstig ondersoek in.

HP Steyn, die hooforganiseerder van Kragdag, het vir Maroela Media gesê dié perseel is so 5 km buite die 10 km-radius en dat Kragdag nie beïnvloed word nie. “Ek het wel ʼn skrywe van die staatsveearts gekry wat voorstel dat ons nie die diere na die skou moet bring nie, maar hulle het erken dat hulle dit nie afdwing nie.

“Hoewel ons dus nie amptelik beïnvloed word nie, gaan ons alles moontlik doen om die diere te beskerm en in elk geval al die nodige biosekerheidsmaatreëls instel.”

Hy kry nou ontsmettingsmatte waaroor besoekers moet loop wanneer hulle in en uit die skouperseel beweeg en die diere gaan ook ontsmet word.

Hy sê volgens sy ervaring gaan die uitbreking nie die besoekers afskrik nie.

“Die beesrasse se uitstallers het ongelukkig almal hul diere onttrek, maar hul stalletjies sal steeds hier wees met hul aanbiedings wat op skerms vertoon sal word. Daar gaan wel heelwat skape, perde en hoenders in lewende lywe te siene wees.”

Die afslaerskompetisie gaan ook voort, asook ʼn demonstrasie oor veehantering.

Vanjaar se Kragdag-landbouskou beloof egter om rekords te laat spat. “Die skougedeelte is baie groter gemaak en ek het pas die laaste uitstalruimte verkoop. Daar is ook heelwat groot persele ingerig vir groot uitstallers soos trekkermaatskappye.”

Steyn sê Kragdag het vanjaar 100 uitstallers bygekry en op 570 is dit nou die derde grootste skou in die land, naas Nampo en die Randse Paasskou.

Abdool-Khader raai boere wat deur die bek-en-klouseer-uitbraak geraak word aan om hul veeartsenykundige diensbeampte te nader om hul diere te inspekteer voordat dit vir verkoop of slag verskuif word.

Daarbenewens moet bewegingspermitte verkry word waarby ʼn veeartseny-gesondheidsertifikaat ingesluit moet wees.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon