Archives

Armer verbruikers spaar selfs op hoendervleis

Featured Ad


Hoendervleis word verpak. Foto: Johannes J Demper

Anders as elders ter wêreld word minder hoendervleis per persoon nou in Suid Afrika geëet.

Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van die Suid Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), skryf dit toe aan werkloosheid en verbruikers se onvermoë om meer vir hoendervleis te kan betaal.

Hy het pas die internasionale pluimveeraad (IPC) se jaarkongres in Bordeaux, Frankryk, bygewoon en sê Rabobank se syfers toon dat die wêreldverbruik per persoon stabiel bly.

China en Indië is groot verbruikers van hoendervleis en Indië se bevolkingsgroei gaan China s’n na verwagting verbysteek. Breitenbach sê die internasionale vraag na hoendervleis sal dus bly styg.

Sowat 140 verteenwoordigers van oor die hele wêreld – onder meer Denemarke, Colombia, Paraguay en die grootste uitvoerland, Brasilië – het die kongres bygewoon.

 

Die oorlog in Oekraïne en die gepaardgaande stygende inflasie se uitwerking op verbruikers is onder meer bespreek. “Veral die skerp styging in gaspryse is ‘n probleem. Daar is kommer dat laerinkomstegroepe nie in die winter verhitting sal kan bekostig nie. Dit het natuurlik ‘n groot uitwerking op die hoenderbedrywe in die betrokke lande, omdat die hokke in die winter warm gehou moet word.”

‘n Ander groot besprekingspunt by die kongres was druk op verbruikers in die Westerse wêreld om minder vleis te eet. “Die stelling is gemaak dat die hoenderbedryf goed geposisioneer is ten opsigte van sy koolstofspoor en as ‘n mens verantwoordelik vleis wil eet, is hoendervleis die beste keuse. Die IPC gee aandag aan die kwessie in die media.”

 

Knyptang

Wêreldwyd kan hoenderprodusente nie die groot styging in insetkoste heeltemal na verbruikers deurgee nie en in Suid-Afrika is dit, weens verbruikers se dalende bestedingsvermoë, ‘n nog groter probleem.

Die stygings in pryse van grondstowwe, kunsmis en energie het ‘n groot uitwerking op produsente. “Daar is geen oplossing beskikbaar vir die koste nie en dit het ‘n groot uitwerking op inflasie in die algemeen, asook op besteebare inkomste.

“Daar is nie enige goedkoop voeralternatiewe nie. Ons sal moet wag dat die makro-ekonomie ten opsigte van grondstowwe verander, sodat pryse kan daal.”

Ander lande se produsente kry nie direkte hulp vanaf regerings ten opsigte van voer-, energie- en kunsmiskoste nie, maar Breitenbach sê wat produsente in veral onder meer die Europese Unie, Amerika en Brasilië help, is dat hulle vergoed word vir voëlgriepuitbrekings. “In Suid-Afrika gebeur dit nie en dit maak ons las soveel swaarder.”

 

Voëlgriep

Breitenbach sê daar is internasionaal groot kommer dat voëlgriep endemies raak. Lande volg nog nie ‘n beleid om in te ent nie, maar einde vandeesmaand word ‘n internasionale kongres gehou waar inenting spesifiek bespreek sal word. Dit sal deur maatskappye, staatsorganisasies en bedryfsverteenwoordigers bygewoon word.

“Al die lande ter wêreld volg ‘n strategie om voëls van kant te maak. Sou ‘n trop positief toets vir die siekte, word al die hoenders van kant gemaak totdat die streek vir 28 dae weer negatief toets.”

Lande wat hoendervleis invoer, plaas ‘n verbod op invoer uit lande waar daar voëlgriepuitbrekings is omdat hulle bang is die virus word ingevoer.

“Die gesprek oor inenting gaan nie soseer oor watter entstof gebruik moet word nie, maar eerder hoe handel sou plaasvind as ons inent. Die sluiting van landsgrense weens voëlgriep is ‘n gerieflike sanitêre en fitosanitêre skans teen invoer.”

Handel bly ‘n warm besprekingspunt. In Europa is invoertariewe op hoendervleis uit Oekraïne, weens die oorlog daar, opgehef. “Dit krap lande om, want daar is ‘n rede vir die tariewe. Dit blyk dat groot dele van Oekraïne nie deur die oorlog geraak word nie en dat produksie en uitvoer van daar af plaasvind.”

 
Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon