Archives

Agri Wes-Kaap bekommerd oor uitstel van besluit oor kragtariewe

Featured Ad


Maroela Media – Agri Wes-Kaap bekommerd oor uitstel van besluit oor kragtariewe | Maroela Media

 

 

Suid-Afrikaners sal eers ʼn dag voor Kersfees weet of hulle in die nuwe jaar aansienlik meer vir krag gaan betaal.

Die nasionale energiereguleerder (Nersa) was veronderstel om reeds verlede Dinsdag sy besluit oor Eskom se tariewe vir volgende jaar aan te kondig, maar het dié aankondiging tot 24 Desember uitgestel.

Die elektrisiteitsubkomitee voer aan dat daar berekeningsfoute gemaak is en dat die feitelike korrektheid van sekere inligting eers nagegaan moet word voordat sy finale besluit geneem kan word.

Eskom het vroeër vir ʼn tariefverhoging van 32% vir die 2023/’24-tariefjaar gevra wat op 1 April 2023 begin.

Agri Wes-Kaap sê hy verneem uit mediaberigte dat die ware rede vir die aankondiging van só ʼn skerp styging uitgestel is om die ANC teen openbare verontwaardiging te beskerm, aangesien die ANC se nasionale verkiesingskonferensie van 16 tot 20 Desember plaasvind.

“Agri Wes-Kaap wil egter glo dat Nersa steeds as ʼn onafhanklike statutêre liggaam funksioneer, soos vereis in die Wet op die Nasionale Energiereguleerder van 2004. Ons doen daarom ʼn dringende beroep op die reguleerder om sy besluit so spoedig moontlik aan te kondig om alle bespiegelinge in die kiem te smoor,” sê Adéle Changuion, woordvoerder van Agri Wes-Kaap.

Volgens Changuion volstaan Agri Wes-Kaap by die kommentaar wat hy tydens die openbare deelnameproses ingedien het – en dit is dat die landboubedryf nie ʼn tariefverhoging wat meer is as inflasie, kan bekostig nie.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê landbouprodusente moes oor die afgelope jaar styging wat meer is as inflasie, absorbeer.

“Die verhoging waarvoor Eskom aansoek gedoen het, is verregaande. Enige styging in kragtariewe wat meer is as inflasie, sal aansienlik bydra tot die huidige kosteknyptang-situasie en sal produsente se vermoë om volhoubaar te produseer verder belemmer.

“Die gevolge van só ’n styging sal omvangryk wees,” sê Strydom.

“Dit sal die vermoë van die landbousektor om volhoubare werkgeleenthede te skep kniehalter terwyl voedselpryse waarskynlik die hoogte sal inskiet.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon