Archives

Die wildsvleisbedryf is aan die woel

Featured Ad


  • Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) is versigtig optimisties oor die strategie-ontwerp vir die wildsvleisbedryf.
  • Volgens die strategie moet die gefragmenteerde wildsvleisbedryf omskep word in ’n formele bedryf.
  • Van die faktore wat aangewend kan word om die strategie lewenskragtig te maak, is die herlewing en opgradering van bestaande abattoirs en verwerkingsaanlegte.
  • Die presiese grootte van die wildsvleisbedryf is onduidelik, want syfers wat genoem word berus grootliks op aannames.
  • Die oogmerk moet wees om ’n ekonomies gesonde en volhoubare wildsvleisbedryf in Suid-Afrika te vestig.

Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) is versigtig optimisties oor die strategie-ontwerp vir die wildsvleisbedryf wat die kabinet vir kommentaar vrygestel het. Die feit dat daar ná baie jare waartydens wildboere onverpoosd gewerk het om ’n volhoubare bedryf daar te stel, nou skynbaar iets aan die gebeur is, is veral verblydend.

Toe die minister van bosbou, visserye en die omgewing, Barbara Creecy, die kabinet se goedkeuring vir die publikasie van ’n wildsvleisstrategie-ontwerp bekendgemaak het, het sy gesê dat dié strategie daarop gemik is om die wildsvleisbedryf in Suid-Afrika, met sy groot potensiaal vir groei, uit te brei, te differensieer en te formaliseer.

Voordele wat die strategie inhou

Indien dié bedryf volhoubaar ontwikkel word, is die mark versoenbaar met die bewaring van diversiteit en kan dit beduidend tot ekonomiese ontwikkeling, werkskepping, voedselsekuriteit en sektortransformasie bydra.

Die strategie sluit die ontwikkeling van ’n volledige waardeketting vir wildsvleis in, wat beleggings kan lok én wat plaaslike, streeks- en internasionale markte kan oopmaak. Dit sal noodwendig lei tot reëls en regulasies wat die veiligheid en gehalte van wildsvleis kan verhoog. Waar moontlik moet die geleentheid vir wildboere, jagorganisasies, jagters en verwerkingsaanlegte vergemaklik word met vaartbelynde wetgewing wat waarde vir geld aan die verbruiker sal verseker.

As gevolg van die bek-en-klouseerbeperkings is uitvoergeleenthede vir die voorsienbare toekoms beperk, maar met ’n bevolking van meer as 60 miljoen mense is daar ’n aantreklike plaaslike mark vir wildsvleis. Volgens die strategie moet die gefragmenteerde wildsvleisbedryf omskep word in ’n formele bedryf, waar die ekonomie van skaal kan help om kommersiële geleenthede te skep vir wildsvleisproduksie, oes, verwerking, verspreiding en bemarking.

Daar is min transformasie in die bedryf en min van die voorheen-benadeeldes deel daarin. Daar is ook groot gebiede met kommunale grond wat geskik is vir die aanhou van vlaktewild en wat geleenthede kan skep vir die ontwikkeling van ondernemings wat sosio-ekonomiese vordering ’n hupstoot kan gee.

Beperkings en uitdagings

Een van die knellende beperkings tydens die ontwikkeling van die strategie was die gebrek aan inligting ten opsigte van die werklike omvang van die bedryf, die skaal en prestasie van die wildekonomie, die hoeveelhede wildsvleis beskikbaar en die vloei daarvan na die markte.

Van die faktore wat aangewend kan word om die strategie lewenskragtig te maak, is die herlewing en opgradering van bestaande abattoirs en verwerkingsaanlegte. Daarmee saam is die ondersteuning van die Departement van Kleinsake-ontwikkeling, samesprekings met die belangrikste winkelgroepe om rakspasie te verseker, aanmoediging van wildsvleisnavorsing deur bestaande wetenskaplike vennote en die opleiding van jongmense as vleisinspekteurs baie belangrik, het minister Creecy gesê.

WRSA het in ’n verklaring gesê hulle verwelkom die feit dat daar nou vir die eerste keer formele studies, wat navorsing en vooruitskattings insluit, ten opsigte van die plaaslike wildsvleisbedryf gedoen is.

Die beperkings op die verhandeling van wildsvleis plaas onnodige druk op die groeipotensiaal van ’n vleisproduk wat om verskeie redes uitstekende potensiaal vir die toekoms toon. Die wildsvleismark was nog altyd onderhewig aan die Wet op Veiligheid van Vleis, 2000 (Wet 40 van 2000), wat hoofsaaklik vir die veebedryf ingestel is. Die talle beperkings wat steeds ingevolge dié wet geld, moet so vinnig as moontlik plek maak vir aanvaarbare wetgewing vir die breë spektrum van die bedryf.

Dit is uiters belangrik dat verdere insette van alle rolspelers verkry word vir die suksesvolle afhandeling van ’n billike en aanvaarbare bedeling wat Suid-Afrika se wildsvleis ekonomies en toeganklik vir almal in die land kan maak.

Die plaaslike jagter moet nie deur nuwe wetgewing vervreem word nie, maar die wetlike voorsiening vir doeltreffende naspeurbaarheid en gesondheid van wildsvleis sal verseker dat formele en uitvoermarkte deure vir die wildbedryf kan oopmaak. Daar moet ook gewaak word teen oorregulering wat veral ’n demper op die informele jagmark kan plaas.

Vir al die voorgenoemde redes is dit voor die hand liggend dat ’n formele strategie wat spesifiek is tot die wildsvleisbedryf, nodig is. WRSA het onderneem om ’n formele standpunt beskikbaar te stel ná ’n volledige bestudering van die dokument.

Tot nou toe was wildsvleis 'n byproduk van die jagbedryf. Die doel van die strategie is om 'n lewenskragtige en volhoubare wildsvleisbedryf te skep, en die georganiseerde produksie van wildsvleis hou groot potensiaal hiervoor in.

Formalisering van die bedryf

Wiaan van der Linde, ’n bekende wildboer van Wintershoek naby Kimberley, het groot welslae met die bemarking van wildsvleis behaal. Hy sê vir hom is die belangrikste positiewe aspek van die minister se aankondiging, dat daar vir die eerste keer in jare ’n daadwerklike poging is om die wildsvleisbedryf te formaliseer.

Elke bedryf het spelreëls nodig, sê hy, en indien Suid-Afrika uiteindelik daarin kan slaag om wildsvleis uit te voer, sal naspeurbaarheid van groot belang wees. Hy beklemtoon dat dit ’n ou bedryf is. Dit is ’n bus wat klaar op volle vaart is en nuwe wetgewing moet dit nie met regulering tot stilstand dwing nie, maar eerder met formalisering in die voordeligste rigting stuur vir die land se ekonomie in geheel en die bedryf in die besonder.

Om dit prakties uit te voer, sal groter insette van wildboere, die wildvangbedryf en administrateurs van die wildbedryf nodig wees. Hulle dien al jare in die bedryf en weet watter uitdagings en haakplekke verwag kan word. Hulle behoort eintlik betrek te word nog voordat ’n wetgewerspen op papier gesit word, eerder as om later vir hul kommentaar gevra te word.

Hy glo dat indien die wildsvleisbedryf ekonomies slaag, sal baie van die uitdagings van die platteland en kommunale gemeenskappe outomaties oorkom word, met werkskepping en ekonomiese groei op die platteland tot voordeel van die mense daar. ’n Gesonde bedryf en ekonomie is die enigste manier om sosiale uitdagings in die land aan te spreek.

Wildsvleis: Bemarking en verbruik

Die presiese grootte van die wildsvleisbedryf is onduidelik, want syfers wat genoem word berus grootliks op aannames. As ’n mens egter na die getalle diere wat geoes en gejag word kyk, asook die afname in die verbruik van skaap- en beesvleis in die wintermaande, is dit enorm. Volgens ’n amptelike raming in 2018 het die wildsvleisbedryf in daardie jaar meer as R9 miljard tot die land se bruto binnelandse produk bygedra.

Binne dié informele struktuur van die bedryf word groot welslae deur privaat ondernemers behaal wat wildsvleis bemark. Nuwe wetgewing wat bedink en geïmplementeer word, moet syns insiens die bestaan en welslae van sulke ondernemings in ag neem.

Enige nuwe bedeling behoort die gebruik en verbruik van wildsvleis te bevorder. By baie verbruikers bestaan die persepsie dat wildsvleis ten opsigte van smaak en gehalte minderwaardig teenoor ander rooivleis is, ondanks die feit dat talle wetenskaplike studies die teenoorgestelde gevind het – dat wildsvleis gesonder en voordeliger is.

Daarby besef baie mense nie dat die oes en jag van wild nie net geld genereer nie, maar ook ’n groot bydrae tot natuurbewaring en volhoubare grondbenutting lewer.

Wiaan sê dit is vir hom ook belangrik dat daar met nuwe voorskrifte en regulasies nie bloot gestreef moet word om die vereistes wat deur die Europese Unie (EU) gestel word te bevredig nie. Die oogmerk moet eerder wees om ’n ekonomies gesonde en volhoubare wildsvleisbedryf in Suid-Afrika te vestig, wat die produk deur die jaar op winkelrakke kan hou en ook in die vraag vanuit buurlande kan voorsien. Eers wanneer hierdie mikpunt bereik is, kan daar begin kyk word na hoe om aan die vereistes van die EU te voldoen, sê hy.

Sy raad aan wildboere is om altyd na die hele waardeketting van wild te kyk, deurentyd aan te pas by die veranderinge, en tred te hou met ontwikkelings in die bedryf. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak die WRSA by 012 335 6994 of info@wrsa.co.za, of Wiaan van der Linde by 082 454 5325 of wiaan@wintershoek.com.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon