Archives

Dis koebaai, maskers!

Featured Ad


Suid-Afrikaners kan Donderdag weer vir die eerste keer in meer as twee jaar sonder ʼn masker in die openbaar verskyn. Dít nadat minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, alle Covid-19-regulasies Woensdagaand teruggetrek het. Die kennisgewing is stil-stil in die Staatskoerant gepubliseer, die aand voor ʼn mediakonferensie wat die uitkomste van ʼn kabinetsbespreking hieroor sou bekendmaak.

 

Die kennisgewing, wat deur die minister onderteken is, beteken ook daar sal nie meer enige beperkings wees op die hoeveelheid gaste wat ʼn troue of begrafnis kan bywoon of die hoeveelheid toeskouers wat ʼn sportstadion mag besoek nie.

 

Die regering is die afgelope tyd deur verskeie regsaksies deur onder meer Solidariteit, AfriForum en Sakeliga in die gesig gestaar, wat gevra het dat die hof die regulasies ongeldig verklaar.

 

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het die kennisgewing verwelkom, maar sê dit is bloot omdat die regering in ʼn regshoek gedwing is dat hulle dié besluit geneem het. “Dis is nie ʼn edele besluit nie, maar weens druk vanaf die gemeenskap deur verskeie organisasies soos AfriForum, Solidariteit en Sakeliga. Saluut aan gewone mense wat ʼn onwillige regering terugdruk.”

 

Hermann het verder daarop gewys dat dit nou die tweede keer is wat die regering skielik regulasies ophef voordat dit deur Solidariteit in die hof gedaag word.

 

“Net soos die ramptoestand was hierdie regulasies ook irrasioneel en onregmatig; en net soos die afskaffing van die ramptoestand op 5 April, het regering dit besef en wou die hofsaak tot elke prys vermy. Die regulasies was prosedureel en substantief onregmatig. Ons verwelkom natuurlik die terugtrek, maar die regulasies moes in die eerste plek nie daar gewees het nie. Ons vertrou dat die regering nou uiteindelik hul les oor die gevolge van onredelike inperking van burgers se regte geleer het,” sluit Hermann af.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon