Archives

15 000 Skape Verdrink Nadat Vaartuig Met Lewende Hawe Omslaan

Featured Ad


Deur: Nasionale raad van die dierebeskermingsvereniging

Bron: Artikel verskaf

Op Sondag, 12 Junie 2022, het die Al Badri 1, ‘n skip wat vir die uitvoer van lewende hawe gebruik word, in die hawe van Soedan gesink. Die vaartuig het 15 800 skape na Saoedi-Arabië vervoer. Daar het 15 000 skape verdrink; die oorblywende 800 wat gered is, is siek en die verwagting is dat hulle ook binnekort sal vrek.

Daar is ‘n algemene apatie onder diegene wat verantwoordelik is vir die Al Badri 1-ramp. Talle verslae berig oor die eienaars se teleurstelling oor die verlies in terme van inkomste in plaas van empatie vir die 15 000 diere wat verdrink het.

“Hierdie diere word soos kommoditeite behandel in plaas van die lewende wesens, daarom word die verlies van hulle lewens as niks beskou. In hulle laaste oomblikke sou hierdie skape angsbevange gewees het, hulle het nie verdien om so dood te gaan nie. Die ergste is die feit dat dit vermy kon gewees het, veral as die betrokke belanghebbendes kan erken hoe nutteloos dit is om lewendehawe uit te voer.” – Senior Inspekteur Grace de Lange.

Tans lê die LSS Success, nog ’n vaartuig wat lewende hawe uitvoer, in die hawe van Oos-Londen in Suid-Afrika vasgemeer met die doel om beeste na Mauritius uit te voer.

Europese owerhede het die LSS Success oor etlike jare op ‘n gereelde basis in detensie geplaas omdat die vaartuig nie aan die nodige regulasies voldoen het nie – dit is ’n aanduiding van hoe ernstig die tekortkominge van die vaartuig is.

Nie lank ná hul laaste detensie deur Europese owerhede nie, het die LSS toe in 2019 sy eerste verskyning in Suid-Afrika gemaak – vermoedelik vanweë hoe gebrekkig Suid-Afrikaanse owerhede se toepassing van regulasies is rakende die uitvoer van lewende hawe.

Ooreenkomste tussen die Al Badri 1 en die LSS Success sluit in dat beide hierdie vaartuie nie oorspronklik vir die doel van lewendehawe-uitvoer gebou is nie. Hulle is aanvanklik gebou as ‘Ro-Ro’-skepe (Roll-on/roll-off-skepe wat voertuie vervoer) en is toe omskep in skepe vir die uitvoer van lewende hawe toe hulle eintlik geskrap moes gewees het.

Die LSS is tans 52 jaar oud en word gebruik om oor die see aan te sukkel met lewende hawe aanboord.

Verlede jaar was die LSS verantwoordelik vir die dood van 40 beeste wat tydens uitvoer van Suid-Afrika na Mauritius aan boord gevrek het. Volgens die vaartuig se voorvalverslag het die beeste aan kopbeserings, beenbeserings en seesiekte gevrek. Nog drie beeste is met hulle aankoms in Mauritius weens hulle toestand van kant gemaak.

Die LSS was in 2020 in die sop nadat Mauritiaanse amptenare ‘n aansienlike hoeveelheid dwelms aan boord van die vaartuig gevind het ná sy vertrek uit Suid-Afrika – Nog ‘n aanduiding van hoe “noukeurig” hierdie vaartuie in Suid-Afrika ondersoek word.

As ’n opgeroeste vaartuig van 52 jaar, met gedokumenteerde tekortkominge, ‘n geskiedenis van mislukkings en ‘n hoë dodesyfer moet die LSS Success dit nie waag om nog ‘n seereis met lewende hawe aan te pak nie. Dit sal die lewens van duisende diere en bemanning in gevaar stel.

Elke jaar, sonder versuim, veroorsaak die lewendehawe-uitvoerbedryf die een krisis na die ander ten koste van die lewens van duisende diere en selfs mense. Ondersteuners van die lewendehawe-uitvoerhandel moet werklik die behoefte aan die uitvoer van lewende hawe herevalueer wanneer daar ‘n alternatief is (die uitvoer van bevrore of verkoelde vleis) wat sulke tragedies kan voorkom.

“Die vervoer van verkoelde en bevrore vleis is die manier waarop byna alle vleis vandag in die handel vervoer word. Die idee om lewende diere te vervoer, is ’n oorblyfsel uit ’n vervloë era.” – prof. Kristen Stilt, die direkteur van Harvard se diereregte- en beleidsprogram.

Volgens ons word vaartuie gebruik uit dieselfde vervloë era waarna prof. Stilt verwys. Te oordeel aan die gemiddelde ouderdom van die 150-tal globale lewendehawe-vloot, verwag ons dat hierdie algemene tragedies net sal toeneem.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon