Archives

Winsgewende skaapboerdery deel 6: Kondisie is die sleutel tot wins

Featured Ad


Die wakker boer wat wins uit sy skaapboerdery wil maak sorg dat sy ooie se kondisie regdeur die jaar gehandhaaf word. ’n Sleutelbeleid is om ooie regdeur die jaar op minstens ՚n 3-, maar verkieslik ՚n 3,5-kondisiepunt (KP) te hou.

Gefokusde voeding

Gefokusde voeding is die aanvulling van spesifieke voedingstowwe gedurende strategiese tye, wat ՚n betekenisvolle verbetering in die produktiwiteit van die ooie bewerkstellig. Indien dit nie gedoen word nie sal sowel die ooie as hulle nageslag se leeftydproduksie ingeboet word.

Ben Brynards, voormalige Nasionale Skaapboer van die Jaar, sê een van die belangrikste geheime van die hoë produksiepotensiaal (gemiddeld 44,3 kg lam op 100 dae gespeen per ooi per lamgeleentheid oor die afgelope 20 jaar) van sy ooie was dat sy ooie altyd in produksiekondisie is en dat hy ՚n diep afkeer in maer ooie het. Om te verseker dat sy ooie deurgaans in ՚n goeie kondisie is, verskaf hy jaarliks gemiddeld 167 kg byvoeding (lekke en spesiale voerkorrels) per ooi.

Om ooie regdeur die jaar met voeding in ՚n goeie kondisie te hou, het ՚n beter uitwerking op winsgewendheid as aanvullende voedsel tydens sekere produksiefases.

Ooie moet gedurende die sewe belangrikste fases in hulle reproduktiewe siklus die regte kondisie op die regte tyd hê. Dit het meer lammers met geboorte en met speen, asook die produksie van meer wol met laer veseldikte tot gevolg.

 

Fase 1: Paring en bevrugting (dag 0)

Die kondisiepunt op die dag van bevrugting is die belangrikste voorspeller van reproduksietempo en is belangriker as die verandering in kondisie voor paring. Meerlinggeboortes is hoogs afhanklik van die kondisie van ooie met paring omdat dit een van die hooffaktore is wat ovulasietempo bepaal. Die mate waarin ՚n ooi haar genetiese reproduksiepotensiaal bereik, is afhanklik van omgewingsfaktore (byvoorbeeld voeding en bestuur), waarvan voeding die belangrikste is.

՚n Lae energiestatus benadeel die reproduksietempo van die ooi, omdat reproduksie van energie afhanklik is. Met ander woorde: Hoe beter die kondisie, hoe hoër die lampersentasie. Reproduksietempo neem toe soos die kondisiepunt en liggaamsmassa toeneem, vanweë die reglynige verwantskap tussen kondisiepunt, liggaamsmassa en ovulasietempo.

Ooie wat met paring skraal is, se lammers is klein met geboorte en baie van hulle word dood gebore of sterf kort na geboorte.

 

Fase 2: Vroeë en middragtigheid (dag 1 tot 90)

Die kondisiepunt van die ooi gedurende vroeë en mid-dragtigheid beïnvloed nie net die lam se geboortemassa, vagmassa en veseldikte nie, maar ook sy ontwikkeling permanent.

Verbeterde voeding van die ooi gedurende mid-dragtigheid kan die groei van haar sogende lammers en groei tot op ouderdom van twaalf tot vyftien maande verbeter met gevolglike laer vrektes en verhoogde leeftydwolproduksie en reproduksietempo van jongooie.

Die teikenkondisie wat gedurende vroeë en middragtigheid gehandhaaf moet word is 3.

Swak voedingstoestande gedurende vroeë en mid-dragtigheid het ՚n kleiner plasenta tot gevolg met gevolglike hoër embrio- en fetusverliese, vroeggebore lammers, laer geboortemassa, swak lewensvatbaarheid van lammers by geboorte, ՚n kleiner uier, vertraagde aanvang van en laer biesproduksie, laer melkproduksie en swak moedereienskappe.

 

Fase 3: Laatdragtigheid (dag 90 tot 150)

Die kondisiepunt gedurende laatdragtigheid kan die groei van die fetus(se) sowel as dié van die sekondêre wolfollikels beinvloed. Dit het weer ՚n permanente invloed op die digtheid (vagmassa) en fynheid van die lam se wol.

Die teikenkondisie gedurende laat dragtigheid is ՚n KP van 3 vir ooie met enkelingfetusse en 3+ vir dié met tweelingfetusse. Lamoorlewing is grootliks afhanklik van geboortemassa, alhoewel faktore soos tipe geboorte (eenling teenoor meerling), melkproduksie van die ooi en haar moederseienskappe ook ՚n invloed het.

Die kondisie van die ooie gedurende laatdragtigheid het egter ՚n groter invloed op die geboortemassa van die lammers as gedurende middragtigheid. Indien die ooie se kondisiepunt gedurende laatdragtigheid toeneem, sal die geboortemassa tot 0,45 kg toeneem.

 

Fase 4: Lamtyd (dag 150)

Onlangse navorsing toon dat daar aansienlike nadele verbonde is aan ooie wat met lamtyd nie in ՚n goeie kondisie is nie. Die kondisiepunt van ooie tydens lam beïnvloed die geboortemassa en oorlewing van die pasgebore lam. Die teikenkondisie vir die ooie tydens lam, is minstens 3 vir ooie met enkelinge en 3 of hoër vir dié met tweelinge.

Die kondisie van ooie het ՚n betekenisvolle invloed op die algehele winsgewendheid van jou skaapboerdery.

Om soveel lammers as moontlik te laat oorleef, moet ooie met enkelingfetusse ՚n KP van 2,8 tot 3 en dié met tweelingfetusse ՚n KP van 3 hê, maar verkieslik 3,3. Dit is egter hoogs aan te beveel dat die kondisiepunt met lam verkieslik 3,5 moet wees, omdat die ooie dan meer energiereserwes beskikbaar het vir melkproduksie.

Die eerste 48 uur van ՚n pasgebore lam se lewe is deurslaggewend. Ongeveer 70% van lamvrektes tussen geboorte en speen vind gedurende hierdie tyd plaas. Die optimale geboortemassa vir lamoorlewing is tussen 4,5 en 6 kg.

 

Fase 5: Vroeë en midlaktasie (dag 150 tot 220)

Ooie in goeie kondisie gedurende laktasie produseer meer melk, wat groter lammers, met hoër oorlewing en ՚n vinniger groeitempo tot gevolg het. Die teikenkondisiepunt van die ooie gedurende hierdie stadium is 2,7 tot 3, maar moet verkieslik 3,5 wees.

Die hoeveelheid en gehalte van die weiding wat gedurende laktasie beskikbaar is, is die hooffaktor wat lamgroeitempo bepaal. Ooie in goeie kondisie sal hulle vetreserwes en die weiding gebruik vir hoë melkproduksie en sal geneig wees om gedurende laktasie kondisie te verloor. Ooie in swak kondisie sal swak melkproduksie toon en sal geneig wees om lammers vroeër te speen, met ՚n gevolglike laer lamgroeitempo.

 

Fase 6: Speentyd (dag 220 tot 240)

Lammassa met speen is ՚n baie belangrike faktor vir die oorlewing van speenlammers. Die teikenkondisie van die ooie tydens speen moet minstens 2,5 tot 2,7 wees terwyl die lammers tydens speen op ongeveer 100 dae, minstens 45%, maar verkieslik 50%, van die volwasse ooi se massa moet weeg.

As gevolg van die belangrike rol wat liggaamskondisie by ovulasietempo speel, moet ooie op die tydstip wat hulle lammers gespeen word, in minstens twee groepe volgens hulle kondisie (byvoorbeeld maer/skraal teenoor goed/vet) verdeel word. Die wat skraal is moet na beter weiding verskuif word of en/of ՚n lekbyvoeding gegee word, sodat hulle ՚n goeie kans het om drie weke voor dekking ՚n kondisiepunt van minstens 3 te bereik.

As slegs op prikkelvoeding staatgemaak word, kan dit gebeur dat skraal ooie nie voldoende tyd het om ’n goeie kondisie te bereik teen die aanvang van die dekseisoen nie.

 

Fase 7: Na speen en voor paring (dag 240 tot 365)

Die tydperk vanaf speen tot paring is baie belangrik om die ooie met paring in die regte kondisie te kry. Hierdie teikenkondisie is 3,5 en hoër. Ooie moet tydens paring ՚n KP van minstens 3 tot 3,5 hê om ՚n hoë reproduksietempo te verseker.

Wanneer ooie se kondisie laer as ՚n 3 KP is, is dit moeilik om hulle kondisie te verbeter as die weiding droog is. Onder sulke omstandighede moet prikkelvoer vanaf minstens drie weke voor paring, vir minstens ses weke, aan ooie voorsien word.

Dit is ondoeltreffend om ooie toe te laat om massa te verloor en om dan kort voor paring te probeer om hulle kondisie te verbeter.

Om die algehele reproduksietempo van ՚n kudde te verhoog, moet veral ooie wat tweelinge gelam en hulle suksesvol tot speen grootgemaak het, alle geleenthede gegun word om die liggaamsmassa wat hulle gedurende laktasie verloor het, voor die volgende paarseisoen te herwin. Dit is omdat daar ՚n goeie kans is dat hulle weer tweelinge sal produseer.

 

Invloed van kondisie op gesondheid

In die volksmond is daar algemene uitdrukkings wat na kondisie (oftewel vetheid) by mense verwys, soos ‘spekvet en gesond’ en ‘rond en gesond’. Dit kan net so wel by skape geld! ՚n Uitstekende kondisie (>3,5 KP) by skape dui op ՚n gesonde dier met ՚n sterk immuunstelsel.

Goedgevoerde skape in ՚n goeie kondisie is minder vatbaar vir interneparasietbesmetting. In hierdie verband is daar talle navorsingsprojekte wat toon dat spesifiek deurvloeiproteïen die impak van parasietbesmetting op die produktiwiteit van kleinvee verminder, deurdat dit die immunologiese weerstand van diere, veral tydens die tye van spanning (byvoorbeeld paring, laatdragtigheid, lam- en speentyd), verhoog.

 

Die algemene vrektenorme of -maatstaf vir ՚n kudde in goeie kondisie (>3 KP) is:

<3% vir volwasse ooie (streef na <1%).

Lamvrektes van <10% (streef na <5%).

<5% vir speenooilammers tot eerste paring (streef na <3%).

 

Resorpsie (embrionale en fetale afsterwing) van <2% (streef na 0,5%).

 

Benewens kondisie, speel die gebruik van ՚n doeltreffende en wetenskaplik begronde skaapbestuurs- en siektevoorkomende gesondheidsprogram ՚n kardinale rol in winsgewende skaapboerdery.

 

Die immunisering van skape teen heersende siektes asook aanvulling van spoorelemente en deurvloeiproteïen, verhoog skape en lammers se immuniteit. Dit beperk vrektes en verhoog terselfdertyd produksie en reproduksie.

 

Die bestuur en voeding van ooie om ՚n voorafbepaalde teikenkondisie op strategiese tye gedurende hulle reproduksiestatus te bereik, is die sleutel tot hoër vleis- en wolproduksie per hektaar en dus winsgewende skaapboerdery.

 

Sorgvuldige monitering van ooie se kondisie- of liggaamsmassaveranderinge is die enigste akkurate manier om hulle voedingstatus te bepaal.

 

Ooie wat nie hulle minimum teikenkondisie gedurende die verskillende stadiums van hulle reproduktiewe siklus bereik nie, en die wat minder voe-ding ontvang, produseer minder wol, speen minder en kleiner lammers, en is minder produktief gedurende hulle leeftyd.

Indien die teikenkondisie van ooie nie bereik kan word deur die veebelading aan te pas nie, moet strategiese byvoeding verskaf word.

 

ProAgri bedank ՚n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, wat sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het. Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@meadowcape.co.za.

 

 

 

 

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon