‘n Amerikaans-gefinansierde nieregeringsorganisasie dryf die oproep om die belasting op suikerversoete drankies te verdubbel en dit is op verkeerde inligting en die wanvoorstelling van feite gegrond.
Die Suid-Afrikaanse Suikerrietwerkersvereniging meen dit kan die lewensbestaan van duisende kleinskaalse produsente in verskeie provinsies in gevaar stel.
Die Suikerrietwerkersvereniging, wat ongeveer 24 000 kleinskaalse produsente en 1 200 kommersiële boere verteenwoordig, doen ‘n beroep op die Healthy Living Alliance (HEALA) om op te hou om die publiek te mislei en eerder deel te wees van ‘n eerlike en sinvolle debat oor suikertaks.
“HEALA beywer hom vir voedselgeregtigheid’, en versoek mense om ‘n petisie te onderteken wat onder meer eis dat suikertaks verhoog word om hongerte en die behoefte aan bekostigbare kos te pak,” sê die Suikerrietwerkersvereniging. ‘n Onlangse studie deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, in opdrag van die departement van landbou, toon dat meer as tweederdes van die Suid- Afrikaanse bevolking voedselonseker is en nie genoeg kalorieë inneem om ‘n gesonde leefstyl te handhaaf nie. Volgens die Suikerrietwerkersvereniging sal die verhoging van die suikertaks nie die kwessie aanraak nie.
Die vereniging wys daarop dat HEALA finansiële steun kry van die Global Health Advocacy Incubator, ‘n inisiatief van die Campaign for Tobacco-Free Kids, wat weer op sy beurt finansiële steun kry van Bloomberg Philanthropies.
“Dit laat ‘n belangrike vraag ontstaan: Moet ryk Amerikaanse figure soos Michael Bloomberg Suid-Afrika se voedsel- en suikersbelastingsbeleide bepaal?” Die vereniging meen die oplossing vir Suid-Afrika se voedsel- en voedingsuitdagings moet eerder plaaslik gedryf word, met inagneming van die hongerte en wanvoeding waarmee baie Suid-Afrikaners te kampe het.
We use cookies to ensure that we give you the best experience on our website. I hereby accept the the Privacy Terms in accordance with the POPIA Act. If you continue to use this site we will assume that you are happy with it.AcceptDeclinePrivacy policy
You can revoke your consent any time using the Revoke consent button.Revoke consent