Archives

Donker prentjie vir ekonomie, sommige landbousektore

Featured Ad


Landbou.com – Donker prentjie vir ekonomie, sommige landbousektore | Landbou

 

Daar is soveel ekonomiese kapasiteit in Suid-Afrika vernietig dat daar omtrent niks op kort termyn gedoen kan word om ekonomiese groei van meer as 1% te bewerkstellig nie, was die boodskap van mnr. Wilbie Venter, graanhandelaar van Unigrain, op die landbougroep neXgro se landbouvooruitskouingskonferensie.

 

Hy het in sy vooruitskouing vir die ekonomie en wisselkoers gesê om vinniger ekonomiese groei te bewerkstellig is toegewyde aandag nodig en dié tipe aandag bestaan nie op die oomblik nie. Die regering se aandag is op die oomblik op homself en die komende verkiesing. Waar daar in die goeie tye sowat R20 miljard jaarliks tot die ekonomie toegevoeg is, is dit nou ’n skrale R6 miljard.

 

“Net soos wat ’n boer nie meer kan produseer as wat sy plaas se kapasiteit toelaat nie, net so geld dit ook die ekonomie. Daar is ekonome wat sê ons moet net dit of dat doen om weer groei van 6% of 7% te bewerkstellig. Dit is net nie moontlik nie.” Hy glo dit kan tot ’n dekade of meer duur om die ekonomiese kapasiteit vir stewige groei te herwin.

 

Wat die beweging van die rand betref, het Venter gesê daar is baie meer faktore wat die rand laat verswak of versterk as beurtkrag en die saak teen oudpres. Jacob Zuma. “Ons is nie spesiaal in die wêreld nie en is ’n baie klein landjie. Die wêreldmark vir geldeenhede is jaarliks $1 300 biljoen waarvan Suid-Afrika se aandeel ’n skrale 1,2% is.

 

“Met so ’n klein aandeel gee die wêreld nie vir jou om nie. Hy sal geld in jou instoot en dit net so maklik weer onttrek as hy ’n wins kan maak. Die rand versterk en verswak saam met ander ontluikende lande se geldeenhede en ons kan niks daaraan doen om dit te beïnvloed nie.”

 

Veebedryf

 

In ’n vooruitskouing van die veebedryf het prof. Johan Willemse, onafhanklike landbouekonoom, gesê die feit dat graan op die oomblik op uitvoerpariteit verhandel, red die veebedryf in ’n mate al hou boere net-net kop bo water omdat voerpryse steeds baie hoog is. “As die mielieprys styg van waar hy nou is, voorsien ek groot probleme vir die intensiewe veebedrywe, want ons het ’n mark wat nie hoër voerpryse met hoër produkpryse kan stut nie.”

 

Hy het gesê ekonomiese groei verswak wêreldwyd, Suid-Afrika se ekonomie is in groot moeilikheid en verbruikers se besteebare inkomste verswak. Uitvoer van beesvleis is van deurslaggewende belang om die vraag te ondersteun, maar dit word gekortwiek deur bek-en-klouseer.

 

Weervooruitsigte

 

Selfs die weervooruitsigte lyk nie belowend nie. Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die fakulteit natuurwetenskappe by Akademia, het gesê op die oomblik lyk dit of daar weer ’n El Niño-toestand in die volgende somerseisoen voorlê ná drie opeenvolgende La Niña-jare wat gunstige reënval meegebring het. Daar is geen aanduiding hoe lank die El Niño-toestande sal voortduur nie.

 

Rautenbach, wat ook oor aardverwarming gepraat het, het gesê hoewel dit ’n werklikheid is en ’n toenemende konsentrasie CO2 wat deur die mens vrygestel word, gedeeltelik daartoe bydra, is dit nie ’n onmiddellike bedreiging vir lewe op aarde nie. Lewe op aarde het voorheen al veel meer uitermatige toestande weerstaan.

 

“Die terme wat gebruik word om aardverhitting uit te beeld is ’n maatskaplik-etiese en politieke onderwerp, pleks van ’n fisiese omgewingskwessie.” Hy het gesê verwarming oor Suid-Afrika vind teen ’n stadiger tempo plaas as oor ander vastelandgebiede soos Europa. In Suid-Afrika is die temperatuurstyging van 0 °C tot 0,2 °C per dekade.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon