Archives

EU hou eerste SA sitrus terug

Featured Ad


Soos gevrees deur die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA) het die Europese Unie (EU) die eerste sitrus-vraghouers wat vanaf Suid-Afrika in Europa aangeland het, teruggehou. Hierdie handeling geskied volgens die splinternuwe regulasies wat die EU op ʼn onwettige manier op Suid-Afrikaanse sitrus afgedwing het.

Volgens die CGA geld die regulasies slegs vir lemoene, maar nou word ander sitrus ook teruggehou.

Die wet is op 14 Julie afgedwing, maar die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) vereis dat daar ʼn tydperk van ses maande moet verloop in die proses om ʼn nuwe handelsregulasie in te stel.

Maroela Media het vroeër berig dat dié regulasies volgens die CGA suiwer politiekery is en glad nie strook met wetenskaplike beginsels in die hantering van sitrus nie.

Die CGA sê hy het verlede week aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf om die uitwerking van dié drastiese, swak ingeligte en ongeregverdigde nuwe regulasies oor die kouebehandeling van uitvoerlemoene na die EU uiteen te sit.

Dit sluit in dat ʼn geraamde 3,2 miljoen kartonne sitrus ter waarde van R605 miljoen (€38,4 miljoen) wat tans na die streek onderweg is, moontlik deur die EU-owerhede vernietig kan word.

“Hierdie nuwe wetgewing sal ʼn verwoestende uitwerking op die plaaslike sitrusbedryf hê, veral vir die 140 000 werksgeleenthede wat daarvan afhanklik is,” sê Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die CGA.

“Ek kan bevestig dat ek verslae ontvang het van houers wat by aankoms op die hawens teruggehou word. In sommige gevalle nie net lemoene nie, maar ook ander sitrus.

“Die CGA bly hoopvol dat pres. Ramaphosa se onlangse gesprekvoering met Charles Michel, president van die EU-raad, daartoe sal lei dat die nuwe regulasies laat vaar word, of ten minste vertraag word, totdat dit behoorlik hersien kan word.

“Die CGA sal voortgaan om met Ramaphosa, die minister van landbou en die departement van handel, nywerheid en mededinging oor die aangeleentheid te beraadslaag.”

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon