Archives

Swaar reën, sneeu volgende week oor dele verwag

Featured Ad


Die winter is hier, en neerslae van tot 50 mm kan volgende week oor dele van die winterreenstreek uitsak. Sneeu is ook moontlik. 

Weervoorspellings dui tans aan dat die kans op swaar reen van tot 50 mm goed is van 13 tot 16 Junie oor die Swartland, die Kaapse metropool en die Wynland-distrik, met minder reen in die Suid-Kaap. Die swaarder neerslae is veral moontlik op Malmesbury, Ceres, die Paarl, Stellenbosch, Kaapstad en die Strand. “Van 10 mm tot 30 mm is moontlik in die omgewing van Caledon, Bredasdorp en Swellendam,” se mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Dit is egter nie uitgesluit dat hierdie reenvaltoestande ook kan uitbrei tot so ver as die Oos-Kaap nie, hoewel die weermodelle tans swaar neerslae meer oor die Suidwes-Kaap voorspel.” 

Verdere reen is moontlik in die laaste tien dae van Junie oor die bogenoemde gebiede, veral vanaf 19 tot 21 Junie. 

Van den Berg se die moontlikheid bestaan dat die verwagte swaar neerslae plek-plek oorstromings kan veroorsaak. “Gegewe die neiging dat reenval in die mid-wintermaande besig is om ‘n patroon van toename to volg, asook met die huidige La Nina-verskynsel wat in soortgelyke jare in die verlede plek-plek baie reen en stormagtige toestande veroorsaak het, is daar rede tot kommer dat daar ook baie swaar reen kan voorkom in die volgende weke en selfs maande oor gedeeltes van die winterreengebied en selfs verder langs die Ooskus op.” 

 

Reen oor die somerreenstreek

Van 14 tot 18 Junie is reen moontlik oor veral die Oos-Kaap, die suidelike en suidoostelike dele van die Vrystaat, die suidelike dele van die Noord-Kaap en die aangrensende dele van KwaZulu-Natal en Lesotho. “Meer as 20 mm is moontlik in veral die noordelike dele van die Oos-Kaap op plekke soos Barkly-Oos, Cradock, Queenstown en selfs Jansenville en Steytlerville verder suid. Dit is ook moontlik dat die sentrale en suidelike dele van die Vrystaat, soos Bloemfontein, Smithfield, Zastron en Fauresmith, reen kan kry,” se Van den Berg. Baie min of geen reen word vir ten minste die volgende twee tot drie weke verwag oor die noordelike en noordwestelike dele van die somerreengebied, wat Limpopo, Mpumalanga, Gauteng, Noordwes en die westelike dele van KwaZulu-Natal insluit. Dieselfde word voorspel vir die noordelike dele van die Noord-Kaap en die Vrystaat. “Ligte neerslae is moontlik oor die kusgebiede van KwaZulu-Natal van 14 tot 23 Junie.” 

Sneeu, koue en ryp

Van den Berg se saam met die verwagte reenval oor die sentrale tot suidoostelike dele volgende week, is daar rondom 14 tot 18 Junie ‘n baie groot kans op sneeu. Veral oor Lesotho, die suidelike dele van die Drakensberge, die sentrale tot noordelike van die Oos-Kaap en die aangrensende dele van die Vrystaat kan sneeu of ysreen voorkom. Daar kan ook sneeu voorkom oor die berge van die Suidwes-Kaap op plekke soos Ceres en omliggende gebiede. Hoewel Suid-Afrika tot Sondag (12 Junie) gematigde dagtemperature van rondom 20°C – en selfs tot bokant 25 °C in die Wes-Kaap, die westelike dele van die Noord-Kaap en oor Limpopo – kan verwag, gaan temperature skerp daal wanneer die koue front die land teen 13 Junie tref. Minimum temperature kan van 14 Junie of oor die suidelike dele van Suid-Afrika daal tot ver onder vriespunt, met temperature van laer as -4 °C wat voorspel word vir plekke soos Barkly-Oos, Bloemfontein, Middelburg in die Oos-Kaap en Fauresmith. “Op langer termyn lyk dit asof Julie en Augustus ook baie koud gaan wees,” se Van den Berg. “Met langtermynneigings van die laaste rypdatums wat al later voorkom, is die kans weer baie goed dat ryp tot in September en selfs Oktober kan voorkom.” Van den Berg waarsku dat veeboere, en veral kleinveeboere, voorbereidings moet tref dat hul vee voldoende beskutting het met die baie koue toestande wat in die laaste deel van Junie verwag word. “Bale koue toestande met reen, sneeu en sterk winde kan uiters gevaarlike toestande vir kleinveeboere skep in die Wes-Kaap, oor groot dele van die Oos-Kaap, die suidelike dele van KwaZulu-Natal (veral gebiede aangrensend aan die Drakensberge), die suidelike dele van die Noord-Kaap en die suidelike en suidoostelike dele van die Vrystaat.” 

 
Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon