Archives

Jong boere dringend benodig

Featured Ad


Wat is die toekoms van die Suid-Afrikaanse landboubedryf sonder sy boere?

TLU SA het Dinsdag gesê Suid-Afrika het nou meer as ooit jong boere broodnodig vir vooruitgang.

Volgens die organisasie kan die landboubedryf nie sonder jong boere bestaan nie en het die bedryf reeds die afgelope paar jaar gegroei danksy die deursettingsvermoë van hierdie boere.

Kommer is onlangs uitgespreek ná afloop van ’n studie wat bevind het dat die jonger boere – wat tans tussen 30 en 45 jaar oud is – meer waarskynlike kandidate is om binne die volgende tien jaar uit die landboubedryf te tree.

Uit die navorsing blyk dit dat sowat 20% (’n vyfde) van die land se produsente beplan om die mark binne die volgende dekade te verlaat. Diegene wat die mark behoort te verlaat weens ouderdom of armoede en dit nié doen nie, blyk egter ’n groter kwessie te wees.

Die navorsing het verder aan die lig gebring dat faktore soos finansiële probleme, ’n gebrek aan betroubare arbeid, onsekerheid aangaande die grondhervormingsbeleid en kommer oor landelike veiligheid die besluit om uit te tree dryf.

Gemeenskap van boere

Volgens Henna du Plessis, voorsitter van TLU SA se Jongboer-komitee, is dit tans nodig vir alle jong boere om deel te wees van ’n organisasie soos TLU SA om gemeenskaplike probleme in die bedryf aan te pak.

“In die huidige omstandighede kan ons nie anders nie as om deel van georganiseerde landbou te wees. Die uitdagings is net te veel. As dit moeilik raak, is dit nog belangriker as ooit om koppe bymekaar te sit en te weet jy is nie alleen op ’n eiland van jou eie nie,” sê Du Plessis.

TLU SA se Jongboer-konferensie vind op 10 Junie by die Voortrekkermonument plaas. Sprekers sluit in Jacob van der Westhuizen (Diversifikasie), Dawie Brits (2021- Jongboer van die Jaar) en die finansiële kenners, Johan Kotze en Kobus Oberholster.

“Ek glo ons gaan wegstap van die konferensie nadat ons lekker gepraat het oor gemeenskaplike uitdagings. Die sprekers sal ons motiveer. En ons gaan weet dat die jongboer ons land uit die huidige moeilikheid sal kry.

“Dit is al manier om te weet waar jy staan as boer. Die moontlikheid van opbouende terugvoer, wat partykeer as negatiewe terugvoer beskou kan word, skrik sommiges af om in te skryf, maar dit is baie belangrik om presies te boer in die huidige omstandighede. As jy iets beters kan doen, is dit nodig en belangrik om dit te weet.”

Die jaarlikse TLU SA Jongboer van die Jaar-kompetisie het begin en inskrywings word van al die streke afgewag. Elke streek moet self drie finaliste aanwys.

Gedurende die week van 11 Julie sal die finaliste op hul plase besoek word waarna die wenners op 7 September bekendgemaak word.

“Die toekoms van landbou is gesetel in die hande van die volgende geslag boere en daarom is dít vir ons ’n baie belangrike kompetisie.”

TLU SA moedig jong boere aan om sy of haar streekbestuurder of -voorsitter te nader om vir die kompetisie in te skryf.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon