Archives

Limpopo skerp stryd teen bek-en-klouseer op

Featured Ad


Ter illustrasie. Foto: Lloyd Phillips

‘n Span dieregesondheidtegnici uit Gauteng sal die volgende maand in Limpopo deurbring waar hulle verdere steun vir die bekamping van bek-en-klouseer sal bied. Daar is tans 90 aktiewe gevalle van die siekte landwyd.

Luidens ‘n verklaring deur Limpopo se departement van landbou en landelike ontwikkeling sal die span betrokke wees by die monitor, inenting en merk van beeste teen bek-en-klouseer. Daar sal aan die einde van hul besoek bepaal word of die situasie noodsaak dat dit verleng moet word. Die provinsiale regering is ook van plan om in die huidige boekjaar sewe dieregesondheidtegnici en drie staatsveeartse aan te stel.

Me. Nandi Ndalane, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in Limpopo, sê die steun uit Gauteng word waardeer en dat dit Limpopo in sy stryd teen bek-en-klouseer sal help. “Ek vertrou dat hierdie ontwikkeling ons sal help om die siekte uit te wis.”

Sedert 16 Mei is daar volgens die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling nege nuwe gevalle van die siekte op kommunale weigrond in KwaZuluNatal geïdentifiseer. Die protokol vir bewegingsbeheer is op 25 Mei aangepas en veeartspatrollies is na hoërisikogebiede gestuur. Sedert die departement se inentingsprogram op 15 Maart vanjaar begin het, is sowat 190 000 beeste teen bek-en-klouseer ingeënt.

Nog ‘n geval is sedert 16 Mei in Limpopo by ‘n diptenk in kommunale weigrond geïdentifiseer. Die besmette diere, wat op ‘n veiling in die Tshwane-munisipaliteit geïdentifiseer is, is sedertdien van kant gemaak en die karkasse vernietig.

Die perseel is op drie afsonderlike dae onder die toesig van ‘n staatsveearts ontsmet. Die stoetkudde wat op dieselfde perseel was, is twee keer vir bek-en-klouseer getoets. Albei resultate was negatief. Dié geval word dus as afgehandel beskou.

Tot dusver is sowat 6 500 beeste in die gebied van Thulamela ingeënt.

In Noordwes is agt nuwe gevalle sedert 16 Mei in die JB Marks-munisipaliteit geïdentifiseer deur voortdurende toetse op plase wat grens aan persele waar bek-en-klouseer voorgekom het. Die betrokke plase is onder kwarantyn geplaas. Inentings op persele waar bek-en-klouseer voorgekom het, sou volgens die departement in Junie begin.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon