Archives

Lesothogrens: Boere moedeloos oor misdaad

Featured Ad


Ter illustrasie: Foto: Willem van der Berg.

Dele van die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho is onveilig en die regering misluk om boere wat langs die misdaadgeteisterde Lesothogrens woon, te beskerm.

Vrystaat Landbou (VL) sê onwettige aktiwiteite en misdaad bedreig die veiligheid van elke boer, hul gesinne en werkers wat naby die suidelike Lesothogrens woon. Boere by Klaarwater, Spring Valley en Boesmanskop is moedeloos hieroor.

“Hierdie gebied dien as ‘n deurgangsroete vir vermoedelik gesteelde goedere en veral vee na Lesotho,” sê mnr. Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee.

“VL het reeds die afgelope drie tot vier jaar verskeie versoeke tot die regering en LUR’e gemoeid met die polisiediens, paaie en vervoer gerig om te help om die grensdraad te herstel. Dit het nog nie gebeur nie.”

Hy sê die herstel en opknap van die grensdraad is nodig sodat wetstoepassers die nodige beskerming kan bied en voorkomende optredes en operasies van stapel kan stuur.

Volgens hom het niks gekom van die departement van openbare werke se planne om ‘n grenspad en -heining in die gebied op te rig nie.

Besoek aan misdaadgeteisterde-grens

Hierdie veiligheidskwessies word vandag tydens VL se besoek aan die gebied bespreek.

Opkomende en kommersiële boere wat onder oorgrens-misdaad deurloop, sal die geleentheid kry om die gebied saam met amptenare van die polisie, die weermag en die grensbestuurowerheid te besoek.

“Ons wil die lot van hierdie vergete gemeenskappe en die mislukking van die regering se grondwetlike verpligting teenoor landelike gebiede en boerderygemeenskappe beklemtoon,” sê Le Roux.

Show Buttons
Hide Buttons
Right Menu Icon